Wednesday, December 1, 2010

WOLKETRAPPER


So, jy voel asof jy nie wil weet wat jy volgende gaan doen nie. Jy het nou die dinge rondom jou so suur gemaak dat jy nie meer uit jou kamer wil kom nie. Jy’t besigheids gedop, en jou toon so hard gestamp dat jy hom kon hoor bid.

Jy bid nou baie meer.

Ek slaan my oge op na die berge. Waar kom my hulp vandaan? Kom dit van die berge? Kyk jy ook al heeldag, en wonder of dit nie miskien die verkeerde berge is nie?  

Hou op vloek, om hemelsnaam.

‘A painting is beautiful, not perfect,’ het ‘n mede hulpelose siel eendag aan my gesê. Jy kan dit ook toepas op jou huidige omstandighede. Jou lewe is nie perfek nie. Daar is orals klein vuil merkies, foute, donker areas, en selfs onderlae wat jy liewers wegsteek. Mona Lisa se ou het haar seker gelos, so sy sukkel om ordentlik te glimlag. Sy is egter nogsteeds aangrypend.

So is jy ook aangrypend.
Wat?  Wil jy net ‘n wit vel papier wees? Wil jy foutloos en sodoende kleurloos wees? Ek hoop nie so nie. Jy het kontras nodig.
Jy moet bereid wees om donker areas te te vind. Jy moet bereid wees om seer te kry, teleurgesteld te word, en selfs ‘n weird pruik te dra. Jy moet jou hart aan enige iemand gee, al is hoe jy hoe bang hulle kruisig jou daarvoor. Jy moet trots genoeg wees om in die wacko’ste gallery te hang en maar vir almal te se jy’s abstrakte kuns.
Jy’s ‘n wolketrapper.

So sluk jou woorde, en bel jou beste vriend en se vir hom jy mis hom. Gaan staan op jou kop en tel tot drie, en wonder hoekom op aarde jy so iets sou wou doen. Want dis sleg vir jou kop.

Jy het al baie foute gemaak, en jy gaan hopelik nog baie meer kan maak. Jy maak nou terwyl jy lees een of ander fout. Glo dit of nie, maar êrens op hierdie aarde is daar ‘n mens (of ten minste ‘n spook of ‘n dier) wat jou en jou foute mis. Indien nie, bel my, en dan sal ek vir jou iemand kry.
Êrens is daar iemand wat nie wil hê jy moet jouself aan hulle bemark nie.

‘Ek wil nie my hart aan jou probeer verkoop nie. Dis joune verniet.’
-Danie