Sunday, May 1, 2011

True Romance en Broodgis op my voorkop

Hoekom broodbreek en broodbak ewe heilig is

Ek hang my nat trui op en probeer aan die kaggelvuurhitte se  warm boude vryf in ‘n poging om lewe terug in my bene te kry. Welkom terug Danie. Dankie.
My oë het maanstof geword na ‘n kwartaal van akademie. Sonder Valient Swart, sonder ware dronkenskap was ek in ballingskap onder die vet maag van die Stellenbosch Univeriteit.

Ek het te lanklaas geskryf.

My vingers bewe op die keyboard, liewe hel, kan iemand my hand kom vashou, want ek gaan soos seuntjie van twee voet met sy roomys op die sand begin huil en sommer my eie blerrie kasteel omskop.

Toe bak ons ‘n brood. Die Du Toit gesin in sy klein kombuis, almal skree, almal lag, iemand huil, iemand troos, iemand is op rolskaatse, iemand het ‘n koek in haar hare, iemand sit op die vloer in die hoek met haar hande oor haar ore en probeer ‘n bietjie van die geraas uithou. Een of ander Hollander met blink bles en ‘n swaar stem sing oor die platespeler terwyl die buurman sy vensters sluit en vir sy vrou sê dat hulle ‘n brief moet skryf. My pa gee ‘n groot oortuigende vloek van vreugde en ek wens die mense in Die Bybel het ook so gepraat. Ek wens jy kon hier wees.

Ek het in my jonger dae eenkeer by die Wimpy vir ‘n vriendin van my se ma gesê dat ‘n brood nie baie kompleks is nie. « Meel en water, dis al, Tannie » het ek vertel. As ek nou terug kyk, besef ek dat daardie resep jou nie verder as die Laaste Avondmaal sal bring nie (in daardie era was dit werklik al wat hulle in hul brood gebruik het). Nà die Kruisiging het ons broodgis en vergifnis gevind. Die vergifnis kon ons nog nie prakties toepas nie, maar die gis het ons wel in ons brood begin gebruik.

So, Meneer die mal ‘teoloog’, hoe bak ons hierdie ‘brood’ ?

Wel, as jy die wyn terug na water toe kan verander, is dit great. Normale water werk ook goed. Tweedens het jy meel nodig. As jy paar korrels kan verander in 12 mandjies vol van meel, bel my, want dan weet ek iets oor jou wat jou nogal sal verbaas. (082 497 3006)
Derdens het jy die gis nodig. Gaan koop dit. Laastens, ‘n bietjie sout.

In maklike stappe :

Gooi die  pakkie gis in die 500 ml water en laat dit vir 15 minute staan. Die water mag nie warmer as die tong van jou verliefde wees na ‘n bevredeguinde koppie tee nie. Gooi dan die knippie sout en die kilogram meel wat jy in ‘n aparte bak het. Moet nooit staal bakke gebruik nie. Meng die giswater met die meel en knie dit tot dit die tekstuur van ‘n binnebeen het. Laat dit dan staan vir nog so 15 minute. Sit dit dan in ‘n warm oond van 240 vir 25 minute.

Dan het jy ‘n brood wat so lekker ruik dat jy vir Lazerus ‘n tweede keer uit die graf sal kan trek. Mummies eet nie brood nie, so moenie te veel daaroor worrie nie.

Dis dit vir nou. Lees my vriend Albert se blog, ‘Marmite vir die Siel’ as jy iets donker en lekker op die brood wil smeer.