Wednesday, February 8, 2012

Welkom Weg!


Ek het gesterf op ʼn Sondagaand.
Dit was die grootste fees. Ek het klomp kerse gekoop en die vloer van my woonstel vol kersfeesliggies laat lê. Ek het my vriende en familie genooi vir die geleentheid.
Uit die aard van die saak sou dit ʼn warm, jammer, warmer, warmstesteste nag wees. Daar was boggerôl wind, maar ons het die deure wyd oop geskuif. André het ʼn vuur op die balkonstoep laat brand, waarop sy pa (wat ook genooi was) skaapvleis aan die gode geoffer het. My ouers was laat. Hulle het die kamer ingekom met al die liefde en bravade van ʼn Du Toit gesin. My broer het sy sonbrille binne die vertrek nog aangehad, tot hy almal klaar gegroet het.

Daar was ook ʼn engel teenwoordig.  Sy het met haar donkerblonde hare en blou rok al die koeldrank in wyn verander. Ons was dronk al voor ons begin drink het.

‘Vanaand sterf ek!’ was my blye heet oor die geraas, met die groot glas aanmaaklemoensapwyn in my hand.  Almal het saam gejuig.

Chris en Albert was die laaste om die kamer vol lig en sang te betree. Almal het eers stil geword om hul aankoms te verkondig. Chris het ʼn regte bottel wyn in sy hand gehad. Albert het twee emmers vol yskoue melk by hom gedra. ‘Vanaand is die aand!’ het een van hulle gesê soos almal mekaar omhels get.

Vanaand was die aand.

Die engel het langs my stoel kom sit op die grond, en saam met my jongste broer gepraat. Ek het haar hand gegryp en gevra of die aand nie maar net ʼn bietjie langer kon wees nie. Vinnig het sy verdwyn om met die Here te gaan praat. Toe sy terug kom was haar antwoord sag, ʼn soen met die nasmaak van ʼn ‘Ja’ op my wang.

So toe maak ons nog bottels oop. Chris se oë was waterig en dronk. My pa se stem was praterig en jonk. My hart geblits, ʼn laterige vonk. Die aand was amper klaar.

Die musiek het harder geword. Almal in die kamer het opgestaan vir die eind-gebed.

My oë het vir ʼn laaste keer toegemaak.

Nou is ek wakker hier, hier in die hiernamaals.

Sunday, February 5, 2012

Die Gypsytenk

Dit was die eerste dag van Junie, en Ella was nog steeds alleen in haar huisie by die lemoenboord. Basjan was al vir tien maande op die grens. Tien maande sonder ’n soen, sonder ’n druk, sonder ʼn dekselse oogknip of ’n knyp op die boud. Dit was ook, glo dit of nie, ’n Woensdag.

Die reën het ’n bietjie genade getoon en vir die oggend die daglig ’n kans gegee om asem te haal. Die kinders op die dorp het die koeie rondgejaag in die modderpaaie, en die vrouens het hul wasgoed skelmpies opgehang, versigtig om nie weer die reën wakker te maak nie.

Dit was omtrent net na twee toe ’n oorlogstenk in die dorp in gery kom. Die masjien was enorm, en het baie meer geraas gemaak as wat Basjan se ou hond ooit kon. Die hond het die keer besluit om net stil op die stoep te bly lê. « Fok dit » het die hond gesê, en sy een oog weer toe gemaak.

Die oorlogstenk was geensins normaal nie. Voorop, op die kanon, het daar ’n onsettende vet mannetjie gesit en naaldwerk doen. Die tenk was oorgeplak met pleisters en koerante. Op party plekke was daar blommetjies geverf. ’n Sakkie lemoene was voor in die kanon ingedruk. Gypsies. Die tenk het stadig beweeg, en ’n donkie het saam geloop, vasgemaak aan ’n skeepstou agter aan die masjien. Die mense in die dorp was soos in enige tipiese oorlogskortverhaal in ekstase. Die tenk het verby Ella se huisie beweeg, en sy het gewens Basjan kon dit sien. Sy het saam met die hond op die stoep gebly tot die verwikkeling in haar Woensdag verby was.

Die aand het saam met die Lasarus van reën gekom en Ella het besluit om haar sambreel en haar hond te oorreed om dorp toe te gaan. Die hond het net gegrom toe sy sê dat sy die gypsies wil gaan ontmoet. Die sambreel het niks gesê nie.

Sy het met haar grootste skoene en Basjan se grootste jas by die voorhek uitgestap. Basjan se hond het met groot verwyt maar saamgestrompel. Sy wange het geswaai soos die ballas van ’n bul op rolskaatse.

Hulle het tot bo in die dorp gestap, waar die oorlogstenk kamp opgeslaan het in die middel van die pad. Daar was ’n afdakkie langs die masjien opgeslaan, en groen en rooi liggies het onder dit geskyn. So vier of vyf Gypsies het onder dit gesit en kaarte speel. Ella het gehardloop tot onder hierdie skuiling. « Welkom ! » het een van die gypsies gesê. Basjan se hond het sy kop net geskud. ’n Redelike aantreklike man het opgestaan om haar te laat sit. Sy het nie die uitnodiging aanvaar nie.
« Wat is jou naam ? » het die man gevra. Sy het nie geantwoord nie. Sy het bloot haar asem vir ’n rukkie opgehou en toe met al haar mag dreigend probeer oorkom. « Wat maak julle hier ? » het sy met die gesag van ’n ware Brandboskraalinwoner gevra.
«Ons is oppad stad toe, Dame. Ons slaan net kamp op vir die aand, » het die vet mannetjie (steeds besig met sy naaldwerk) gesê. Ella het besluit om liewers te bedaar. Die Gypsies het niemand enige leed aangedoen nie, en was die eerste opwindende ding in die dorp in tien maande.
« Mevrou, ek het vir u ’n persent, » het die aantreklike man gesê. « Is u vertroud met die dryfserpe van Rusland ? »
« Nee, » het sy geantwoord. Sy het nog nooit van so iets gehoor nie.
« Wel, ek het vir u een, wat ek nie meer wil gebruik nie, » het hy gesê. Hy het ’n klein blou serpie vol blinkertjies uit sy gatsak gehaal en dit vir haar aangegee.
« Hoe werk dit? » het sy gevra, nie versigtig genoeg met haar houding nie.
« As u miskien ’n bietjie vriendeliker was, sou ek u graag wou wys, » het die man gesê. Die ander mans het hul kaarte neer gesit. Ella het begin huil. Dit was te veel, hierdie vreemdelinge wat met ’n oorlogtenk rondparadeer terwyl haar verliefde êrens in ’n soortgelyke masjien moet oorleef. Die man het haar vasgedruk. « Ek sal u gou wys hoe dit werk. » Basjan se hond het weer begin grom. Die man het die serp om haar gesig gedraai. « As ek dit reg het, is u nou veronderstel om te begin dryf,» het hy gesê. Sy het stil op die vloer gestaan met rukkende skouers. Die man het aan haar arms gevat, en haar op die mond gesoen. Die hond het sy plig gegryp en die trawant met al sy geloof op die boud gebyt. Ella was al klaar aan die hardloop, met die serp in haar hand. Sy kon nie ophou huil nie. Haar voete was lam van die koue waters wat deur haar sole beweeg het. Sy wou roep, sy wou skree, sy wou hê dat die aarde moes onder haar weggee, en sink in die see. Sy het aangehou hardloop tot haar asem op geraak het, en toe nog. Dit was nie lank nie, toe sy besef sy hardloop nie op ’n pad wat sy ken nie. Sy het rondom haar gekyk in die donker en die reën. Niks het bekend gelyk nie. Toe sien sy haar huis. Daar onder was haar huis, tien verdiepings onder haar voete, waar sy in die waterige hemel gedryf het.


Monday, January 30, 2012




WERKWANTDIENAGKOMNADER
HOEKOM SO BAIE VROUENS BITTEREINDERS WAS



Vir Ouma Ella




"Don't you think the English ought to give in? Why should the Boers
give in? We are fighting for our own, and England is fighting for what
belongs to another. Why should England not give in?"

With some asperity he answered:

"I suppose it is a question of 'Eendracht maakt Macht,' or whatever
you call it."

"Eendracht maakt Macht?" she exclaimed. "I really fail to see the
connection."

"Well," he answered, "isn't Might  Right all the world over?"

"No, indeed!" she cried vehemently. "Might is right in England, and
your motto is an apt one, but in South Africa might is  not right.
Our motto, 'Eendracht maakt Macht,' means 'Unity is Strength.”[1]


Die Boere het oorlog verklaar op 11 Oktober 1899, en sodoende ’n onvergeetlike merk gemaak op Britse sowel as Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die Britse publiek het verwag dat dit teen Kersfees sou staak. Dit was egter die langste (twee jaar en nege maande)[2], die mees kostelike (meer as £230 miljoen)[3], en mees tragiese (Die verlies van minstens 22 000 Engelse, 25 000 Boere en 12 000 nie-blanke lewens)[4] oorlog waaraan Brittanje nog tussen 1815 en 1914 deelgeneem het.[5] Die poging vanaf die Boere moet waarlik wel toegereken word aan meer partye as net die manlike vegters self. Die rol van die vrouens kan nie versuim word in die poging om hierdie geskiedenis te verken nie. Die voorafgaande aanhaling beklemtoon juis die motief ‘Eenheid is Krag.’ Die nosie vermeld dat die kultuur (oftewel vanaf ’n vroulike perspektief) met betrekking tot die oorlog gevestig was daarop om as ’n eenheid op te tree. In hierdie opstel sal daar dus gekyk word na ’n kardinale aspek van die Boere inspanning: Die vrouens. Daar sal gekyk word na hul onweglaatbare bydrae van vrouens soos Maria Fischer asook die waarde agter hul bestempeling as ‘Bittereinders.’

Dit blyk te goede dat vrouens op die tuisfront eerste onder bespreking sal wees. Op 16 Oktober 1900 het Generaal J.B. M Hertzog met ’n klein kommando Jagersfontein en Fauresmith aangeval. Amper 400 vrouens en kinders is Port Elizabeth toe gestuur na konsentrasiekampe aangesien daar beskuldigings was van vrouens wat die kommando bygestaan het. Die bystaan het voedsel en ammunisie behels. Sommige vrouens het hulp gebied met soomwerk en die herstel van skoene. Die take was soms veeleisend, en vrouens het dikwels nagte deur gewerk met algemene herstelwerk. Die vrouens het ook informasie gegee aan die kommando en hul poging versterk deur selfs op die Britse troepe te skiet vanaf hul huise.[6]  Die aktiwiteit van informasie gee sou later as spioenasie bestempel word. Dit sal later in hierdie opstel verder bespreek word. Dit moet in hierdie konteks ook genoem word dat die Suid-Afrikaanse Minister van Finansies, N.C Havenga, 50 jaar later vertel het dat hy geen kennis gedra het van vrouebystand gedurende die aanval, waarby hy self betrokke was, nie.[7] Havenga se uitsprake onderstreep egter net dat daar ’n skroomheid was vanaf die manlike vegters om erkenning te bied aan vrouens. Eerstens omdat dit hul eie glorie ondermyn. Tweedens sou dit veronderstel dat die manlike geslag nie in hul patriargale beskerming suksesvol was nie. Die bystand van vrouens het in die aanval op Jagersfontein ’n kardinale rol gespeel. Vrouens het op die tuisfront die kommando’s (wat nie eers noodwendig hul eie getroudes of familie was nie) onvermisbare hulp gebied. Alreeds opper die tema van ‘Bittereinders’. Die tradisionele rol van die vrou, of altans moeder, was liberaal vertolk tot so ’n mate dat historici hul konnotasies kan beklemtoon as braaf en vol moed. Dit het brawe eksistensie behels vir vrouens om teen die straf van konsentrasiekampe nog steeds deel te neem aan die oorlogpoging.

Vrouens het egter nie altyd die lot van die konsentrasiekampe aanvaar nie. Veral onder Danie Theron was daar baie vrouens op vlug wat in waens geskuil het. [8] Hierdie aktiwiteit was egter onvergewensgesind; baie vrouens en kinders het gesterf. Oorlewing was verseker ’n bitter stryd. Die doop van ‘Bittereinders’ val dus relevant in hierdie konteks. Meeste groot pelotonne is in die wiele gery, en die deelnemendes is na kampe toe gestuur. Kitchener se beleid om die boere se plase en huise af te brand het ook baie gesinne na die kampe toe gedryf. Vrouens en kinders is per trein vervoer na hul lot. Die treintrokke was nie beskut nie, en die vervoering het dikwels in die middel van die winter plaasgevind. Ernstige siektetoestande en selfs ’n paar dode is hieraan toegereken. [9] Die ‘Oorlog-beeld’ van 21 Julie 1900 vermeld hoe Chris Botha se huis deur ‘Khakis’ opgeblaas was.[10] Die selfde koerant berig op 1 Februarie 1902 hoe Britse soldate vrouens aangehou het om te kyk hoe hul huise afgebrand word. Die kos wat die gesine besit het, is op die grond uitgegooi. By een so ’n geval was Generaal Piet de Wet ook teenwoordig gewees. Hy het egter net bygestaan en gekyk soos die vrou, vir wie hy goed geken het, se huis verwoes word deur Engelse soldate. Mevrou Van Niekerk het hom ’n joiner genoem. Hierop het hy bloot geantwoord dat die land verlore is, en dat president Steyn ’n fout maak om aan te hou veg.[11]Hier word daar ’n duidelike kontras gevind tussen die generaal en die vrou. In hierdie konfliksituasie bly Van Niekerk verset terwyl haar eiendom afgebrand word. Sy beledig dan die generaal, wat getuig van groot erns in haar oortuiging. Sy gee dus nie toe nie. Weereens is dit ’n voorbeeld van ’n vrou wat as ’n bittereinder optree.

Spioenasie, soos vroeër vlugtig genoem, was ook teenwoordig onder vrylopende vrouens. Gevalle is aangeteken waar vrouens as besoekers by gevangenisse aangekom het, en informasie getrek het om dan te versprei tot die oorlogspoging.[12] Verskeie stories is al geskryf oor hul aktiwiteite, maar dit val egter dikwels onder fiksie. Dit is wel belangrik om te noem dat ’n groot hoeveelheid vrouens deelgeneem het in die verspreiding van informasie. Dit was nie eers altyd opsetlik nie. Waardevolle informasie is deur blote gespreke waargeneem. Dat daar wel formele spioenasie was, is onbetwyfelbaar. Bronne aangaande hierdie aktiwiteite word egter verkleur met volksmites. Die mites spruit wel uit waarlik gevaarlike dade wat vrouens moes behartig.  Weereens, is hierdie take gedoen teen die vrees van die genadelose konsentrasiekampe, waar 27 000 boervrouens en kinders gesterf het onder die aandaglose beleid van Kitchener.[13]

Maria Fisher het die volgende in haar dagboek geskryf op 29 Mei 1901: “Ons mans, kinders, vaders, broers, susters, huis, alles ja alles moet ons agterlaat, en ons – wat sal van ons word?”[14] Die konsentrasiekampe was egter nie genoeg rede vir sommige van hierdie vrouens om moed op te gee nie. Op 1 Julie 1902 het daar in die ‘Oorlog-Beeld’ ’n artikel verskyn waarin Maria Fischer uitspraak gelewer het op die beëindiging van die oorlog. Die artikel is geskryf vanaf die konsentrasiekamp. Hierin het sy vermeld dat sy bly was oor die vrede, maar dat die vryheid van die twee republieke te ’n hoë prys was.[15] Hierdie aanmerking moet gestel word teen die agtergrond van enorme lewensverlies wat in die kampe ’n impak gehad het op baie moeders. Vrouens moes altans bloot net bittereinders wees om enigsins te oorleef. Dit was in hierdie samehang normaal vir ’n moeder om twee of drie van haar kinders te verloor.[16]

Marie Fischer se artikel dui egter op ’n bitter uithouvermoë. Die tragiek van die konsentrasiekamp het die moraal van sekere vrouens dus nie totaal afgebreek nie. Die aggressiwiteit in Fischer se artikel getuig altans van ’n groter veglus vir die doel wat hulle al klaar soveel gekos het. Die artikel is egter geskryf na die Boere oorgegee het. Volgens die artikel het die Britse in hierdie konteks met skerts aanmerkings gemaak soos ‘Where is your God in whom you trusted?’ Uit hierdie aanhaling kan daar dan ook die logiese deduksie gemaak word dat daar ’n groot religieuse kultuur was onder die gevangenisse van die konsentrasie kampe. Die vermoë om aan te hou hoop in ’n groter geregtigheid beklemtoon weereens die vrouens in hierdie situasie as bittereinders.

Gedurende hierdie tyd is veral kommandolede as bittereinders bestempel. Luitenant Kolonel Trichard het byvoorbeeld gestel dat hy liewers die land verlaat, aangesien hy nie Britse Heerskappy kon aanvaar nie. Toe die Nederlandse eerste-minister aan Paul Kruger aangebied het om as ’n middelganger op te tree, het hy bloot gestel dat ‘die vryheid van die republieke nie onderhandelbaar is nie.’[17] Hierdie standvastigheid was ook teenwoordig by vrouens. Soos een vrou opgemerk het: ‘Watter vrede? Oorwinning vir Engeland, en slawerny vir ons en ons nageslagte, ek sou die kamp met al sy terreur verkies bo so ’n vrede.”[18]
Buiten die natuurlike emotiewe aard van hierdie stelling is dit moontlik om die bittereinderskap van hierdie vrou weereens te verneem. Dit is baie duidelik dat baie van die mans en vrouens tesame nie saamgestem het met die besluit om oor te gee nie. Die verlies wat hulle al klaar gelei het, en die tyd wat hulle al klaar aan hul oorlogspoging bestee het, het moontlik ’n bydrae gemaak tot hul verset in die oorgee.

In hierdie opstel is dit duidelik gemaak dat vrouens die bestempelling van ‘Bittereinders’ in baie opsigte verdien het. In hul verskillende aktiwiteite het hulle verskeie drastiese en brawe take uitgevoer waarsonder die oorlogspoging aansienlik minder suksesvol sou wees. Ook hul algehele kultuur en beskouings kom in die algemeen uit die bronne oor as nimmereindigend vol moed. Soos in die inleidende aanhaling kan daar verneem word dat samewerking vir die Boere ’n noodsaaklikheid was. In hierdie samewerking moes mans sowel as vrouens hul uiterstes betree in ’n poging om ’n donker toekoms te voorkom. Vir hierdie mense was die vryheid van die twee republieke onder die gevaar van die Britse skaduwee. Vrouens het op verskeie fronte soos bittereinders gewerk in hul stryd om die skaduwee, oftewel die nag, te voorkom.

Daarom sou Ella du Toit, wat vier broers in die konsentrasiekamp verloor het, haar lewe lank die volgende sê: Werkwantdienagkomnader.
     

Bibliografie

1.      Brandt, J.: The Petticoat Commando. Mills & Boon Limited, 49 Rupert Street,
      London, 1913.

2.      Breitenbach, J.J.: South Africa In The Modern World. Shute rand Shooter,      Pietermaritzburg, 1977.


3.      Fischer, M.: “Die reaksie van ’n brawe boervrou,” Oorlog Beeld, 1 Julie 1902, p. 2.

4.      Fischer, M.: kampdagboek. Human & Rousseau, Kaapstad, 1964.


5.      Giliomee, H.: Die Afrikaners: ’n Biografie. Tafelberg-Uitgewers, 2004.

6.      Grobler, J.E.H.: The War Reporter: The Anglo-Boer War Through The Eyes     Of The Burgers. Jonathan Ball Uitgewers, Johannesburg, 2004.


7.      Pakenham, T.: DIE BOERE-OORLOG. Jonathan Ball Uitgewers,         Johannesburg,             1979.

8.      Spies, S. B.: Methods of barbarism?Roberts and Kitchener and civilians in the Boer Republics, January 1900-May 1902. Human & Rousseau,    Kaapstad, 1977.





[1]     J. Brandt: The Petticoat Commando, p. 106.
[2]     T. Pakenham: DIE BOERE-OORLOG, p. 573.
[3]     H. Giliomee: Die Afrikaners: ’n Biografie, p. 206.
[4]     T. Pakenham: DIE BOERE-OORLOG, p. 573.
[5]     Ibid.
[6]     S. B. Spies: Methods of Barbarism? Roberts and Kitchener and civilians in the Boer Republics, January 1900-May 1902, p. 162.
[7]     J.J. Breitenbach (ed): South Africa in the Modern World, p. 454.
[8]     J.E.H. Grobler (ed): The War Reporter: The Anglo-Boer War Through The Eyes Of The Burghers, p. 46.
[9]     Ibid. p. 87
[10]    Ibid.
[11]    Ibid. p. 135
[12]    J. Brandt: The Petticoat Commando, p. 66.
[13]    T. Pakenham: DIE BOERE-OORLOG, p. 538.
[14]    M. Fischer: Kampdagboek, p. 7
[15]    M. Fischer: “Die reaksie van ’n brawe boervrou,” Oorlog Beeld, 1 Julie 1902, p. 2.
[16]   T. Pakenham: DIE BOERE-OORLOG, p. 538
[17]    J.E.H. Grobler (ed): The War Reporter: The Anglo-Boer War Through The Eyes Of The Burghers, p. 148
[18]    Ibid.

Monday, January 23, 2012

DOOFKOORS


Rocketship
om saam met jou te wees
is om die res van die skepping agter te laat
die kosmos onplof en ons Rocketship fluit die niks in

ons vaar ’n ruimteligjaar tot ons spoed bedaar
en skep ons eie wêreld sommer daar
met ons storm wat soos water in die kraters opgaar
gee dit ’n blink kleur soos jou oë
en  noem dit see
met ons berge hoop wat óphoop
waaroor wolke soos riviere loop
met ons lywe soos kontinente wat skuif
en rondom ons aarde na mekaar toe dryf

om saam met jou te wees
is om die skepping beter te maak

¼ 



Dood van ’n Towenaar

Sit gou stil
daar’s ietsie agter jou oor
ek het my muntstuk verloor

O nee dis ’n blom, jammer dis obviously joune
hier vat dit
breek die steeltjie af
maak dit toe in jou hand
Abra Kadabra
kyk
dis my hart
O shit dis my h-
¼ 


 
Psalm Aan Adatjie
die here herder my;
maar jy sal my ontbreek
hy lê my in droom neer op jou skoot; en ek loop oor rustelose waters
hy verswik my siel en lei my op dwaalspoor van geregtigheid, om jou naam ontwil
al gaan ek deur ’n dal van doodskaduwee kan ek geen onheil vrees nie
want die hoop is met my; dit stok, staf en vertroos my
jy brand soos ’n kers op die tafel voor my teëstanders
jy maak my hoof blink met olie
my hart loop oor
net goedheid en guns sal ek volg
ek sal in die kamer langs jou bly tot die lente van dae
(mind the gap, ek neem ’n visuele sug)
meer as ’n mossie met die vlug in jou oog
ek bid dat die here na jou sal kyk
my hart soos brood sal breek
en mandjies vol deel
genoeg sal los
vir jou
om weer vir my te steel
¼