Hoofstuk Sewe
New York’s not My Home
New York’s not My Home
Dit was ’n Sondag.
Sonder enige werklike son, Sonder enige werklike dag. Wadda se gesig het al heeltemal herstel, en hy het die meeste van sy trots terug gekry. Hy het voor een van Salomo se skilderye gestaan wat nog toegedraai was in ’n groot wit lap met klein groen strepies. ‘Wan neer kan ek nou flippenwil kyk Oom ?’ Het Wadda geïrriteerd gevra. ‘Wag net Boet, vanaand sal jy.’
Die twee het saam geloop busstop toe. Salomo het die toegedraaide skildery onder sy arm gedra. Wadda het teen sy wil skoene aangetrek, Salomo het op sekere goed nie ingegee nie.
Die kaartjies het gesê ‘Kaapstad’, en die busdrywer het bly sit soos hy dit ingeneem het. Wadda kon by die venster sit. Salomo het stadig en met moeite gesit en deur sy groot grys snor afgeblaas.
Die bus het gery.
En gery. Ry en ry. Brrroooom. Ieee ! Gggrrr, Tsss. Brrrooom. Gggrr. Etcetera.
Tussen die geraas deur kon Salomo sy opgewondenheid nie meer inhou nie. ‘Wil jy weet waaroor hierdie painting gaan ?’ Het hy gevra.
‘Nie regtig nie oom, ek wil dit net sien.’
Salomo het begin praat.
‘Dink gou mooi Wadda. Van watter persoon op aarde hou die meeste van ? Moenie nou antwoord nie, dink eers mooi.
Ek kan met sekerheid sê my gunsteling persoon is, en was nog altyd, ’n ou vriendin wat ek ontmoet het toe ek nog in die stad gebly het.’
‘Jissis Oom, ek hoop nie dis hoekom ons nou stad toe gaan nie.’
‘Nee boet, sy’s al lankal dood.’ Het Salomo geantwoord. Daar was ’n stilte. Die maer ou man het weer probeer met sy storie :
Sy’t geverf en ek het by die Argus gewerk. Ek het haar vir minder as ’n sekonde geken toe ek geweet het dat daar nog nooit so ’n persoon geloop het nie. Ek het my tyd gevat. Soos ek haar meer gesien het, het ek self ook begin verf. Nooit meer as ’n skildery ’n maand nie. Ek het 'n paar vir haar gegee. Met elkeen wou ek haar wys hoe sy lyk. As sy my ernstig sou opneem, sou sy gedink het sy lyk soos ’n opgedonnerde kleuterprentjie met oë wat groter as haar mond is.
Na ’n ruk het sy vir my ook begin prentjies maak. Haar goed was baie kleiner, maar baie mooier en meer kosbaar.
Die jare het so voortgebliksem en sy het Amerika toe getrek. Ek het hier gebly soos ’n aartappel in die yskas. Ons het nog skilderye aan mekaar gestuur.’
‘Oom Salomo, ek dink ons moet later praat, ek’s regtig ’n bietjie moeg,’ was Wadda se gaaponderbreking. Die bus het soos ’n gerekte tape in ’n warm Datsunbakkie stadig voort geloop.
Dit was al donker toe hulle in die Stad kom. Die plek was lewendig met trompetspelers en groot tannies met somersklere vol blinkertjies en gelukkige sweet. Die bus het gestop tussen twee enorme geboue wat Wadda soos twee reuse broers aangekyk het. Die twee het tussen die mense geloop en vinnig deel van die byekolonie geword. Wadda kon nie meer wag om die skildery te sien nie. ‘Hoe lank het Oom daaraan gewerk ?’ het hy gevra.
‘Dertig jaar.’
Wadda se oë het gerek. ‘Hoe nou ? Is dit Mona-Lisa?’
‘Toe ek 30 jaar terug hoor sy’s weg, het ek besluit om ’n skildery te maak om haar in vas te vang.’
Hy het die kind by ’n stel trappies op gewys. Hulle het binne ’n gebou gekom waarin daar ’n hysbak was. Salomo het die 14de vloer se knoppie gedruk. Die vloer was een stel trappe vanaf die gebou se boonste tuintjie. Hulle moes die deur afskop om daar uit te kom. Die geraas in die stad het dit toegelaat. Dit was baie hoog. ‘Goed, Wadda, is jy reg om te sien ?’
Hy het die kind by ’n stel trappies op gewys. Hulle het binne ’n gebou gekom waarin daar ’n hysbak was. Salomo het die 14de vloer se knoppie gedruk. Die vloer was een stel trappe vanaf die gebou se boonste tuintjie. Hulle moes die deur afskop om daar uit te kom. Die geraas in die stad het dit toegelaat. Dit was baie hoog. ‘Goed, Wadda, is jy reg om te sien ?’
‘Dit beter die moeite werd wees Oom, na dertig jaar en ’n hele trip Kaapstad toe.’
Salomo het net sy mond skeef gedraai. Hy het die skildery vertikaal bo sy skouers gelig. Almal wat van onder in die straat af sou opkyk, sou die strepieslap kon sien. ‘Trek jy die lap af’ het hy beveel. Wadda het so gemaak.
’n Baie bang Salomo het sy asem opgehou, asof die skildery ’n visnet was waarmee hy ’n spook kon vang. Wadda het verbaas na die prent gekyk. Dit was net blou. Een skakering blou. Soos ’n blou muur. Sonder enige vorms of lyne.
‘Ai Oom.’