Monday, January 3, 2011

Super Powers

Ek hoes, ek vloek, en ek bid terwyl een of ander somervrug se pit in my keel double-park. Ek probeer die panic-button met my neus druk en skree met  die elegantheid van ‘n vet kommunis op ‘n scooter.
Bless you.

Delilah sny Simson se hare, en nee, dis net 'n skildery.
 Dan dryf ek die demoon van ‘n pit uit my liggaam uit en staan weer regop, ek probeer so nonchalant as moontlik lyk, want daar is mense in die kamer. Stay cool, om hemelsnaam. Stay cool.
Elkeen wat asem haal het een of ander talent. Myne is nie om cool te wees nie. Ek sukkel buitendien om asem te haal. Een van my broers het die krag van ritme gekry. Die ander een het die oerbalans van die kosmos ontdek, so hy ry pretty goed op ‘n skateboard.
Maar daar is nog groter kragte wat in mense lê.
Die grootste krag is die krag van broosheid. Die teenoorgestelde van die mens wat defensief leef. Iemand wat hul hart nie beskerm nie, maar oor en oor uit lê vir mense om te kruisig. Hierdie krag het ek ongelukkig ook nie. Jy ook nie. En jy, wat toevalig ook lees, ook nie.

Maar ons kan daarna streef. Ons kan probeer om nie altyd Mighty Men te probeer wees nie. Ons hoef nie altyd sterk te wees nie. Ons hoef nie defensief te lewe nie.
Ja, as jy nie defensief lewe nie, is die kanse seker groot dat mense jou gaan gebruik, of oor jou sal loop. Jy sal dit in alle waarskynlikheid nie kan oorleef nie.
Dis egter die hele punt.
Sodra mense iets waarlik beeldskoon sien, kruisig hulle dit.
As jy hierdie snaakse plek oorleef, en nie op een of ander manier deur mense bedonner word nie, doen jy duidelik iets verkeerd.

So wees liewers broos, ou Simson, laat jou vrou maar jou hare sny.

Gaan nou uit, gaan maak vir jou ‘n kostuum waaroor jy ‘n rooi onderbroek kan dra, soos Superman. Maak dan ‘n groot hart op jou bors, en sommer ook een wat jy op jou mou kan dra. Dan pak jy die hele ding weg, want dit lyk stupid.

Danie