Monday, October 10, 2011

Wadda en die Walvis

Hoofstuk Sewe

New York’s not My Home


Dit was ’n Sondag.
Sonder enige werklike son, Sonder enige werklike dag. Wadda se gesig het al heeltemal herstel, en hy het die meeste van sy trots terug gekry. Hy het voor een van Salomo se skilderye gestaan wat nog toegedraai was in ’n groot wit lap met klein groen strepies.  ‘Wan neer kan ek nou flippenwil kyk Oom ?’ Het Wadda geïrriteerd gevra. ‘Wag net Boet, vanaand sal jy.’

Die twee het saam geloop busstop toe. Salomo het die toegedraaide skildery onder sy arm gedra. Wadda het teen sy wil skoene aangetrek, Salomo het op sekere goed nie ingegee nie.
Die kaartjies het gesê ‘Kaapstad’, en die busdrywer het bly sit soos hy dit ingeneem het.  Wadda kon by die venster sit. Salomo het stadig en met moeite gesit en deur sy groot grys snor afgeblaas.

Die bus het gery.

En gery.                                                          Ry en ry.                               Brrroooom. Ieee ! Gggrrr, Tsss. Brrrooom. Gggrr.     Etcetera.

Tussen die geraas deur kon Salomo sy opgewondenheid nie meer inhou nie. ‘Wil jy weet waaroor hierdie painting gaan ?’ Het hy gevra.
‘Nie regtig nie oom, ek wil dit net sien.’
Salomo het begin praat.
‘Dink gou mooi Wadda. Van watter persoon op aarde hou die meeste van ? Moenie nou antwoord nie, dink eers mooi. 
Ek kan met sekerheid sê my gunsteling persoon is, en was nog altyd, ’n ou vriendin wat ek ontmoet het toe ek nog in die stad gebly het.’

‘Jissis Oom, ek hoop nie dis hoekom ons nou stad toe gaan nie.’

‘Nee boet, sy’s al lankal dood.’ Het Salomo geantwoord. Daar was ’n stilte. Die maer ou man het weer probeer met sy storie :

Sy’t geverf en ek het by die Argus gewerk. Ek het haar vir minder as ’n sekonde geken toe ek geweet het dat daar nog nooit so ’n persoon geloop het nie. Ek het my tyd gevat. Soos ek haar meer gesien het, het ek self ook begin verf. Nooit meer as ’n skildery ’n maand nie. Ek het 'n paar vir haar gegee. Met elkeen wou ek haar wys hoe sy lyk. As sy my ernstig sou opneem, sou sy gedink het sy lyk soos ’n opgedonnerde kleuterprentjie met oë wat groter as haar mond is.
Na ’n ruk het sy vir my ook begin prentjies maak. Haar goed was baie kleiner, maar baie mooier en meer kosbaar.

Die jare het so voortgebliksem en sy het Amerika toe getrek. Ek het hier gebly soos ’n aartappel in die yskas. Ons het nog skilderye aan mekaar gestuur.’

‘Oom Salomo, ek dink ons moet later praat, ek’s regtig ’n bietjie moeg,’ was Wadda se gaaponderbreking. Die bus het soos ’n gerekte tape in ’n warm Datsunbakkie stadig voort geloop.

Dit was al donker toe hulle in die Stad kom. Die plek was lewendig met trompetspelers en groot tannies met somersklere vol blinkertjies en gelukkige sweet. Die bus het gestop tussen twee enorme geboue wat Wadda soos twee reuse broers aangekyk het. Die twee het tussen die mense geloop en vinnig deel van die byekolonie geword. Wadda kon nie meer wag om die skildery te sien nie. ‘Hoe lank het Oom daaraan gewerk ?’ het hy gevra.
‘Dertig jaar.’
Wadda se oë het gerek. ‘Hoe nou ? Is dit Mona-Lisa?’
‘Toe ek 30 jaar terug hoor sy’s weg, het ek besluit om ’n skildery te maak om haar in vas te vang.’
Hy het die kind by ’n stel trappies op gewys. Hulle het binne ’n gebou gekom waarin daar ’n hysbak was. Salomo het die 14de vloer se knoppie gedruk. Die vloer was een stel trappe vanaf die gebou se boonste tuintjie. Hulle moes die deur afskop om daar uit te kom. Die geraas in die stad het dit toegelaat. Dit was baie hoog. ‘Goed, Wadda, is jy reg om te sien ?’
‘Dit beter die moeite werd wees Oom, na dertig jaar en ’n hele trip Kaapstad toe.’
Salomo het net sy mond skeef gedraai. Hy het die skildery vertikaal bo sy skouers gelig. Almal wat van onder in die straat af sou opkyk, sou die strepieslap kon sien. ‘Trek jy die lap af’ het hy beveel. Wadda het so gemaak.

’n Baie bang Salomo het sy asem opgehou, asof die skildery ’n visnet was waarmee hy ’n spook kon vang. Wadda het verbaas na die prent gekyk. Dit was net blou. Een skakering blou. Soos ’n blou muur. Sonder enige vorms of lyne.

‘Ai Oom.’

Friday, October 7, 2011

Wadda en die Walvis

Hoofstuk 6
Salomo se mooiste lied
Salomo het soms gevoel asof sy hele wêreld  geskep was in ’n rekenaarlokaal. Vandag het hy nie. Die water het oor die voorkant van sy klein boothuis gespat en in die middaglig soos nat wit vonke op die hout geblink. Hy was trots op hierdie beskrywing.
Wadda het hom uitgestrek met sy visstok op sy maag. Sy rug op die warm hout van die boothuis se klein groen dak. Sy gesig het nou al begin herstel. Sy een oog was nou blou, aangesien Klitsie se voet dit swaar getref het.
‘Wadda, ek wil nou omdraai en terug na die hawe toe skiet, is dit reg met jou?’
Wadda het nie eers geantwoord nie. Hy was heeltemal te rustig. Die boot het stadig begin kantel en omgedraai na hul dorpie toe.  Salomo het teen die stuurwiel ’n beat gekap en aan homself ’n lied gesing.

Sunday, October 2, 2011

Wadda en Die Walvis

Hoofstuk vyf

Dit is seker verstaanbaar dat Klitsie ’n baie bang knaap was na die vorige hoofstuk.

Hy was nie heeltemal seker waarvoor nie. ’n Paar weke terug het die groot visserman, Petrus, hom met groot geweld weg van Wadda af gestamp. Die konflik het gestop toe twee groot vlerke uit Petrus se hemp geskeur het. Hy het daar gestaan soos ’n doodsengel. Dit het als so vinnig gebeur, en Klitsie het gewonder of hy dit nie als maar net verbeel het nie. Hy kon hierdie gebeurtenis nie aan enigiemand vertel nie. Almal sou dink hy is mal. Sy pelle wat ook daar was, was almal ook net te bang om enigiets te sê. So, as gevolg van die feit dat hy dit nie oor kon vertel nie, en ook dat hy die gebeurtenis met niemand kon deel nie, het hy besluit dat dit seker nooit regtig gebeur het nie.  Hy kon homself dus bedags goed oorreed om skool toe te gaan. Hy het selfs weer vir Wadda in die bek geruk. Hierdie keer het hy dit goed gedoen. Wadda se arm was gebreek en sy kakebeen was heeltemal af. Die bliksempie het selfs begin huil, en Klitsie het sy trots baie vinnig terug gewen. Die idee van ’n engel het hom egter gepla. Hy het aanhoudend bo hom gekyk, en net vir sekerheid sy stiefbroer se jagmes by hom gedra. Hy was ’n groot kind, en nie gewoond daaraan om bang te wees nie.

Dit was ’n ander storie in die vroeë skemer oggende by sy huis.

Dit was ’n Vrydag toe hy in sy kamer gesit het en Bybel lees. Die huis was stil maar die wind het teen sy venster gemoer soos ’n mal bobbejaan. Klitsie het gebewe. Sy bene was nog onder sy groot kombers, en sy kamer het geruik na kitskoffie en ProNutro. Sy oë was genael op die blaaie voor hom. Hy kon nie konsentreer nie.

Sy deur het oopgeswaai.

Al die gravitasiekrag in Klitsie se maag het verdwyn en sy tone het opgekrul. Daar was niks agter die deur nie. Die seun het homself vertel dat dit net die wind was. Daar moes seker ’n skrefie in die venster gewees het, en dié moes wind deurgelaat het. Hy het uit die bed uit geklim en die deur gaan toemaak. Toe het hy na sy gordyne toe geloop. Hy wou dit eers nie oopmaak nie. Wat as daar iemand agter die venster gestaan het? Wat as Petrus hom kom haal het? Die bloedrooi matrikulant het eers sy krieketkolf langsaan sy lessenaar nader getrek.

Hy het die gordyne oopgetrek. Die krieketkolf het uit sy hand geval. ’n Enorme man met blink swart vlerke het buite sy venster gestaan. Die seun het geskree. Hy het deur die kamer na sy deur toe gehardloop. Petrus het deur venster gebars. Klitsie was by die deur uit in die gang in. Die engel het gesukkel om met sy groot vlerke deur die deur te kom. Hy het die deurkosyn uitgeruk. Die res van die huis was nou ook wakker, maar niemand kon die engel of die vet prefek betyds sien nie. Teen die tyd wat Klitsie se Pa by sy kamer uitgestorm het, was die jag al buite in die straat. Klitsie het vinnig gehardloop. Petrus, in die vrees dat iemand hom sou sien, het op gevlieg in die donkerte in.

Klitsie het gehardloop met alles wat sy brandende asem aan die gang kon hou. Die son het agter hom begin opkom, maar dit was nog net ’n dreigement. In die donkerte sou die engel nog sukkel om hom te vind. Hy het na Ooste kant van die dorp gehardloop, waar hy sou kon wegkruip in die groot stukke oop veld. Die veld het gekom en hy het met sy kaal voete deur die hoë fynbosse gehardloop. Selfs in die skemerlig kon ’n mens die sien dat die veld geel van die nuwe bloeisels was. Die gronde het ver in die binneland in geloop. Klitsie het ophou hardloop en onder die bosse ingekruip. Deels omdat hy moeg was, maar ook deels omdat die lig begin opkom het, en hy nou heeltemal sigbaar sou wees. Die area rondom hom was so geel soos die son self. Die lente blommetjies het soos gapende kindertjies in die son nog kleurskynstof gekry. Klein geel bloeisels het orals geval soos Klitsie onder deur die bosse gekruip het. Vir hom het die son het heeltemal te vroeg opgekom.

Hy het vlerke gehoor. Soos ’n muis vir ’n uil het Klitsie opgekrimp en geskree. Twee enorme hande het hom aan sy enkels opgetrek in die lug in. Die seun het uit selfverdediging sy eie oë toe gemaak en sy bewussyn verloor.