Sunday, October 2, 2011

Wadda en Die Walvis

Hoofstuk vyf

Dit is seker verstaanbaar dat Klitsie ’n baie bang knaap was na die vorige hoofstuk.

Hy was nie heeltemal seker waarvoor nie. ’n Paar weke terug het die groot visserman, Petrus, hom met groot geweld weg van Wadda af gestamp. Die konflik het gestop toe twee groot vlerke uit Petrus se hemp geskeur het. Hy het daar gestaan soos ’n doodsengel. Dit het als so vinnig gebeur, en Klitsie het gewonder of hy dit nie als maar net verbeel het nie. Hy kon hierdie gebeurtenis nie aan enigiemand vertel nie. Almal sou dink hy is mal. Sy pelle wat ook daar was, was almal ook net te bang om enigiets te sê. So, as gevolg van die feit dat hy dit nie oor kon vertel nie, en ook dat hy die gebeurtenis met niemand kon deel nie, het hy besluit dat dit seker nooit regtig gebeur het nie.  Hy kon homself dus bedags goed oorreed om skool toe te gaan. Hy het selfs weer vir Wadda in die bek geruk. Hierdie keer het hy dit goed gedoen. Wadda se arm was gebreek en sy kakebeen was heeltemal af. Die bliksempie het selfs begin huil, en Klitsie het sy trots baie vinnig terug gewen. Die idee van ’n engel het hom egter gepla. Hy het aanhoudend bo hom gekyk, en net vir sekerheid sy stiefbroer se jagmes by hom gedra. Hy was ’n groot kind, en nie gewoond daaraan om bang te wees nie.

Dit was ’n ander storie in die vroeë skemer oggende by sy huis.

Dit was ’n Vrydag toe hy in sy kamer gesit het en Bybel lees. Die huis was stil maar die wind het teen sy venster gemoer soos ’n mal bobbejaan. Klitsie het gebewe. Sy bene was nog onder sy groot kombers, en sy kamer het geruik na kitskoffie en ProNutro. Sy oë was genael op die blaaie voor hom. Hy kon nie konsentreer nie.

Sy deur het oopgeswaai.

Al die gravitasiekrag in Klitsie se maag het verdwyn en sy tone het opgekrul. Daar was niks agter die deur nie. Die seun het homself vertel dat dit net die wind was. Daar moes seker ’n skrefie in die venster gewees het, en dié moes wind deurgelaat het. Hy het uit die bed uit geklim en die deur gaan toemaak. Toe het hy na sy gordyne toe geloop. Hy wou dit eers nie oopmaak nie. Wat as daar iemand agter die venster gestaan het? Wat as Petrus hom kom haal het? Die bloedrooi matrikulant het eers sy krieketkolf langsaan sy lessenaar nader getrek.

Hy het die gordyne oopgetrek. Die krieketkolf het uit sy hand geval. ’n Enorme man met blink swart vlerke het buite sy venster gestaan. Die seun het geskree. Hy het deur die kamer na sy deur toe gehardloop. Petrus het deur venster gebars. Klitsie was by die deur uit in die gang in. Die engel het gesukkel om met sy groot vlerke deur die deur te kom. Hy het die deurkosyn uitgeruk. Die res van die huis was nou ook wakker, maar niemand kon die engel of die vet prefek betyds sien nie. Teen die tyd wat Klitsie se Pa by sy kamer uitgestorm het, was die jag al buite in die straat. Klitsie het vinnig gehardloop. Petrus, in die vrees dat iemand hom sou sien, het op gevlieg in die donkerte in.

Klitsie het gehardloop met alles wat sy brandende asem aan die gang kon hou. Die son het agter hom begin opkom, maar dit was nog net ’n dreigement. In die donkerte sou die engel nog sukkel om hom te vind. Hy het na Ooste kant van die dorp gehardloop, waar hy sou kon wegkruip in die groot stukke oop veld. Die veld het gekom en hy het met sy kaal voete deur die hoë fynbosse gehardloop. Selfs in die skemerlig kon ’n mens die sien dat die veld geel van die nuwe bloeisels was. Die gronde het ver in die binneland in geloop. Klitsie het ophou hardloop en onder die bosse ingekruip. Deels omdat hy moeg was, maar ook deels omdat die lig begin opkom het, en hy nou heeltemal sigbaar sou wees. Die area rondom hom was so geel soos die son self. Die lente blommetjies het soos gapende kindertjies in die son nog kleurskynstof gekry. Klein geel bloeisels het orals geval soos Klitsie onder deur die bosse gekruip het. Vir hom het die son het heeltemal te vroeg opgekom.

Hy het vlerke gehoor. Soos ’n muis vir ’n uil het Klitsie opgekrimp en geskree. Twee enorme hande het hom aan sy enkels opgetrek in die lug in. Die seun het uit selfverdediging sy eie oë toe gemaak en sy bewussyn verloor.

No comments:

Post a Comment