Sunday, February 5, 2012

Die Gypsytenk

Dit was die eerste dag van Junie, en Ella was nog steeds alleen in haar huisie by die lemoenboord. Basjan was al vir tien maande op die grens. Tien maande sonder ’n soen, sonder ’n druk, sonder ʼn dekselse oogknip of ’n knyp op die boud. Dit was ook, glo dit of nie, ’n Woensdag.

Die reën het ’n bietjie genade getoon en vir die oggend die daglig ’n kans gegee om asem te haal. Die kinders op die dorp het die koeie rondgejaag in die modderpaaie, en die vrouens het hul wasgoed skelmpies opgehang, versigtig om nie weer die reën wakker te maak nie.

Dit was omtrent net na twee toe ’n oorlogstenk in die dorp in gery kom. Die masjien was enorm, en het baie meer geraas gemaak as wat Basjan se ou hond ooit kon. Die hond het die keer besluit om net stil op die stoep te bly lê. « Fok dit » het die hond gesê, en sy een oog weer toe gemaak.

Die oorlogstenk was geensins normaal nie. Voorop, op die kanon, het daar ’n onsettende vet mannetjie gesit en naaldwerk doen. Die tenk was oorgeplak met pleisters en koerante. Op party plekke was daar blommetjies geverf. ’n Sakkie lemoene was voor in die kanon ingedruk. Gypsies. Die tenk het stadig beweeg, en ’n donkie het saam geloop, vasgemaak aan ’n skeepstou agter aan die masjien. Die mense in die dorp was soos in enige tipiese oorlogskortverhaal in ekstase. Die tenk het verby Ella se huisie beweeg, en sy het gewens Basjan kon dit sien. Sy het saam met die hond op die stoep gebly tot die verwikkeling in haar Woensdag verby was.

Die aand het saam met die Lasarus van reën gekom en Ella het besluit om haar sambreel en haar hond te oorreed om dorp toe te gaan. Die hond het net gegrom toe sy sê dat sy die gypsies wil gaan ontmoet. Die sambreel het niks gesê nie.

Sy het met haar grootste skoene en Basjan se grootste jas by die voorhek uitgestap. Basjan se hond het met groot verwyt maar saamgestrompel. Sy wange het geswaai soos die ballas van ’n bul op rolskaatse.

Hulle het tot bo in die dorp gestap, waar die oorlogstenk kamp opgeslaan het in die middel van die pad. Daar was ’n afdakkie langs die masjien opgeslaan, en groen en rooi liggies het onder dit geskyn. So vier of vyf Gypsies het onder dit gesit en kaarte speel. Ella het gehardloop tot onder hierdie skuiling. « Welkom ! » het een van die gypsies gesê. Basjan se hond het sy kop net geskud. ’n Redelike aantreklike man het opgestaan om haar te laat sit. Sy het nie die uitnodiging aanvaar nie.
« Wat is jou naam ? » het die man gevra. Sy het nie geantwoord nie. Sy het bloot haar asem vir ’n rukkie opgehou en toe met al haar mag dreigend probeer oorkom. « Wat maak julle hier ? » het sy met die gesag van ’n ware Brandboskraalinwoner gevra.
«Ons is oppad stad toe, Dame. Ons slaan net kamp op vir die aand, » het die vet mannetjie (steeds besig met sy naaldwerk) gesê. Ella het besluit om liewers te bedaar. Die Gypsies het niemand enige leed aangedoen nie, en was die eerste opwindende ding in die dorp in tien maande.
« Mevrou, ek het vir u ’n persent, » het die aantreklike man gesê. « Is u vertroud met die dryfserpe van Rusland ? »
« Nee, » het sy geantwoord. Sy het nog nooit van so iets gehoor nie.
« Wel, ek het vir u een, wat ek nie meer wil gebruik nie, » het hy gesê. Hy het ’n klein blou serpie vol blinkertjies uit sy gatsak gehaal en dit vir haar aangegee.
« Hoe werk dit? » het sy gevra, nie versigtig genoeg met haar houding nie.
« As u miskien ’n bietjie vriendeliker was, sou ek u graag wou wys, » het die man gesê. Die ander mans het hul kaarte neer gesit. Ella het begin huil. Dit was te veel, hierdie vreemdelinge wat met ’n oorlogtenk rondparadeer terwyl haar verliefde êrens in ’n soortgelyke masjien moet oorleef. Die man het haar vasgedruk. « Ek sal u gou wys hoe dit werk. » Basjan se hond het weer begin grom. Die man het die serp om haar gesig gedraai. « As ek dit reg het, is u nou veronderstel om te begin dryf,» het hy gesê. Sy het stil op die vloer gestaan met rukkende skouers. Die man het aan haar arms gevat, en haar op die mond gesoen. Die hond het sy plig gegryp en die trawant met al sy geloof op die boud gebyt. Ella was al klaar aan die hardloop, met die serp in haar hand. Sy kon nie ophou huil nie. Haar voete was lam van die koue waters wat deur haar sole beweeg het. Sy wou roep, sy wou skree, sy wou hê dat die aarde moes onder haar weggee, en sink in die see. Sy het aangehou hardloop tot haar asem op geraak het, en toe nog. Dit was nie lank nie, toe sy besef sy hardloop nie op ’n pad wat sy ken nie. Sy het rondom haar gekyk in die donker en die reën. Niks het bekend gelyk nie. Toe sien sy haar huis. Daar onder was haar huis, tien verdiepings onder haar voete, waar sy in die waterige hemel gedryf het.


No comments:

Post a Comment