Monday, January 30, 2012




WERKWANTDIENAGKOMNADER
HOEKOM SO BAIE VROUENS BITTEREINDERS WAS



Vir Ouma Ella




"Don't you think the English ought to give in? Why should the Boers
give in? We are fighting for our own, and England is fighting for what
belongs to another. Why should England not give in?"

With some asperity he answered:

"I suppose it is a question of 'Eendracht maakt Macht,' or whatever
you call it."

"Eendracht maakt Macht?" she exclaimed. "I really fail to see the
connection."

"Well," he answered, "isn't Might  Right all the world over?"

"No, indeed!" she cried vehemently. "Might is right in England, and
your motto is an apt one, but in South Africa might is  not right.
Our motto, 'Eendracht maakt Macht,' means 'Unity is Strength.”[1]


Die Boere het oorlog verklaar op 11 Oktober 1899, en sodoende ’n onvergeetlike merk gemaak op Britse sowel as Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die Britse publiek het verwag dat dit teen Kersfees sou staak. Dit was egter die langste (twee jaar en nege maande)[2], die mees kostelike (meer as £230 miljoen)[3], en mees tragiese (Die verlies van minstens 22 000 Engelse, 25 000 Boere en 12 000 nie-blanke lewens)[4] oorlog waaraan Brittanje nog tussen 1815 en 1914 deelgeneem het.[5] Die poging vanaf die Boere moet waarlik wel toegereken word aan meer partye as net die manlike vegters self. Die rol van die vrouens kan nie versuim word in die poging om hierdie geskiedenis te verken nie. Die voorafgaande aanhaling beklemtoon juis die motief ‘Eenheid is Krag.’ Die nosie vermeld dat die kultuur (oftewel vanaf ’n vroulike perspektief) met betrekking tot die oorlog gevestig was daarop om as ’n eenheid op te tree. In hierdie opstel sal daar dus gekyk word na ’n kardinale aspek van die Boere inspanning: Die vrouens. Daar sal gekyk word na hul onweglaatbare bydrae van vrouens soos Maria Fischer asook die waarde agter hul bestempeling as ‘Bittereinders.’

Dit blyk te goede dat vrouens op die tuisfront eerste onder bespreking sal wees. Op 16 Oktober 1900 het Generaal J.B. M Hertzog met ’n klein kommando Jagersfontein en Fauresmith aangeval. Amper 400 vrouens en kinders is Port Elizabeth toe gestuur na konsentrasiekampe aangesien daar beskuldigings was van vrouens wat die kommando bygestaan het. Die bystaan het voedsel en ammunisie behels. Sommige vrouens het hulp gebied met soomwerk en die herstel van skoene. Die take was soms veeleisend, en vrouens het dikwels nagte deur gewerk met algemene herstelwerk. Die vrouens het ook informasie gegee aan die kommando en hul poging versterk deur selfs op die Britse troepe te skiet vanaf hul huise.[6]  Die aktiwiteit van informasie gee sou later as spioenasie bestempel word. Dit sal later in hierdie opstel verder bespreek word. Dit moet in hierdie konteks ook genoem word dat die Suid-Afrikaanse Minister van Finansies, N.C Havenga, 50 jaar later vertel het dat hy geen kennis gedra het van vrouebystand gedurende die aanval, waarby hy self betrokke was, nie.[7] Havenga se uitsprake onderstreep egter net dat daar ’n skroomheid was vanaf die manlike vegters om erkenning te bied aan vrouens. Eerstens omdat dit hul eie glorie ondermyn. Tweedens sou dit veronderstel dat die manlike geslag nie in hul patriargale beskerming suksesvol was nie. Die bystand van vrouens het in die aanval op Jagersfontein ’n kardinale rol gespeel. Vrouens het op die tuisfront die kommando’s (wat nie eers noodwendig hul eie getroudes of familie was nie) onvermisbare hulp gebied. Alreeds opper die tema van ‘Bittereinders’. Die tradisionele rol van die vrou, of altans moeder, was liberaal vertolk tot so ’n mate dat historici hul konnotasies kan beklemtoon as braaf en vol moed. Dit het brawe eksistensie behels vir vrouens om teen die straf van konsentrasiekampe nog steeds deel te neem aan die oorlogpoging.

Vrouens het egter nie altyd die lot van die konsentrasiekampe aanvaar nie. Veral onder Danie Theron was daar baie vrouens op vlug wat in waens geskuil het. [8] Hierdie aktiwiteit was egter onvergewensgesind; baie vrouens en kinders het gesterf. Oorlewing was verseker ’n bitter stryd. Die doop van ‘Bittereinders’ val dus relevant in hierdie konteks. Meeste groot pelotonne is in die wiele gery, en die deelnemendes is na kampe toe gestuur. Kitchener se beleid om die boere se plase en huise af te brand het ook baie gesinne na die kampe toe gedryf. Vrouens en kinders is per trein vervoer na hul lot. Die treintrokke was nie beskut nie, en die vervoering het dikwels in die middel van die winter plaasgevind. Ernstige siektetoestande en selfs ’n paar dode is hieraan toegereken. [9] Die ‘Oorlog-beeld’ van 21 Julie 1900 vermeld hoe Chris Botha se huis deur ‘Khakis’ opgeblaas was.[10] Die selfde koerant berig op 1 Februarie 1902 hoe Britse soldate vrouens aangehou het om te kyk hoe hul huise afgebrand word. Die kos wat die gesine besit het, is op die grond uitgegooi. By een so ’n geval was Generaal Piet de Wet ook teenwoordig gewees. Hy het egter net bygestaan en gekyk soos die vrou, vir wie hy goed geken het, se huis verwoes word deur Engelse soldate. Mevrou Van Niekerk het hom ’n joiner genoem. Hierop het hy bloot geantwoord dat die land verlore is, en dat president Steyn ’n fout maak om aan te hou veg.[11]Hier word daar ’n duidelike kontras gevind tussen die generaal en die vrou. In hierdie konfliksituasie bly Van Niekerk verset terwyl haar eiendom afgebrand word. Sy beledig dan die generaal, wat getuig van groot erns in haar oortuiging. Sy gee dus nie toe nie. Weereens is dit ’n voorbeeld van ’n vrou wat as ’n bittereinder optree.

Spioenasie, soos vroeër vlugtig genoem, was ook teenwoordig onder vrylopende vrouens. Gevalle is aangeteken waar vrouens as besoekers by gevangenisse aangekom het, en informasie getrek het om dan te versprei tot die oorlogspoging.[12] Verskeie stories is al geskryf oor hul aktiwiteite, maar dit val egter dikwels onder fiksie. Dit is wel belangrik om te noem dat ’n groot hoeveelheid vrouens deelgeneem het in die verspreiding van informasie. Dit was nie eers altyd opsetlik nie. Waardevolle informasie is deur blote gespreke waargeneem. Dat daar wel formele spioenasie was, is onbetwyfelbaar. Bronne aangaande hierdie aktiwiteite word egter verkleur met volksmites. Die mites spruit wel uit waarlik gevaarlike dade wat vrouens moes behartig.  Weereens, is hierdie take gedoen teen die vrees van die genadelose konsentrasiekampe, waar 27 000 boervrouens en kinders gesterf het onder die aandaglose beleid van Kitchener.[13]

Maria Fisher het die volgende in haar dagboek geskryf op 29 Mei 1901: “Ons mans, kinders, vaders, broers, susters, huis, alles ja alles moet ons agterlaat, en ons – wat sal van ons word?”[14] Die konsentrasiekampe was egter nie genoeg rede vir sommige van hierdie vrouens om moed op te gee nie. Op 1 Julie 1902 het daar in die ‘Oorlog-Beeld’ ’n artikel verskyn waarin Maria Fischer uitspraak gelewer het op die beëindiging van die oorlog. Die artikel is geskryf vanaf die konsentrasiekamp. Hierin het sy vermeld dat sy bly was oor die vrede, maar dat die vryheid van die twee republieke te ’n hoë prys was.[15] Hierdie aanmerking moet gestel word teen die agtergrond van enorme lewensverlies wat in die kampe ’n impak gehad het op baie moeders. Vrouens moes altans bloot net bittereinders wees om enigsins te oorleef. Dit was in hierdie samehang normaal vir ’n moeder om twee of drie van haar kinders te verloor.[16]

Marie Fischer se artikel dui egter op ’n bitter uithouvermoë. Die tragiek van die konsentrasiekamp het die moraal van sekere vrouens dus nie totaal afgebreek nie. Die aggressiwiteit in Fischer se artikel getuig altans van ’n groter veglus vir die doel wat hulle al klaar soveel gekos het. Die artikel is egter geskryf na die Boere oorgegee het. Volgens die artikel het die Britse in hierdie konteks met skerts aanmerkings gemaak soos ‘Where is your God in whom you trusted?’ Uit hierdie aanhaling kan daar dan ook die logiese deduksie gemaak word dat daar ’n groot religieuse kultuur was onder die gevangenisse van die konsentrasie kampe. Die vermoë om aan te hou hoop in ’n groter geregtigheid beklemtoon weereens die vrouens in hierdie situasie as bittereinders.

Gedurende hierdie tyd is veral kommandolede as bittereinders bestempel. Luitenant Kolonel Trichard het byvoorbeeld gestel dat hy liewers die land verlaat, aangesien hy nie Britse Heerskappy kon aanvaar nie. Toe die Nederlandse eerste-minister aan Paul Kruger aangebied het om as ’n middelganger op te tree, het hy bloot gestel dat ‘die vryheid van die republieke nie onderhandelbaar is nie.’[17] Hierdie standvastigheid was ook teenwoordig by vrouens. Soos een vrou opgemerk het: ‘Watter vrede? Oorwinning vir Engeland, en slawerny vir ons en ons nageslagte, ek sou die kamp met al sy terreur verkies bo so ’n vrede.”[18]
Buiten die natuurlike emotiewe aard van hierdie stelling is dit moontlik om die bittereinderskap van hierdie vrou weereens te verneem. Dit is baie duidelik dat baie van die mans en vrouens tesame nie saamgestem het met die besluit om oor te gee nie. Die verlies wat hulle al klaar gelei het, en die tyd wat hulle al klaar aan hul oorlogspoging bestee het, het moontlik ’n bydrae gemaak tot hul verset in die oorgee.

In hierdie opstel is dit duidelik gemaak dat vrouens die bestempelling van ‘Bittereinders’ in baie opsigte verdien het. In hul verskillende aktiwiteite het hulle verskeie drastiese en brawe take uitgevoer waarsonder die oorlogspoging aansienlik minder suksesvol sou wees. Ook hul algehele kultuur en beskouings kom in die algemeen uit die bronne oor as nimmereindigend vol moed. Soos in die inleidende aanhaling kan daar verneem word dat samewerking vir die Boere ’n noodsaaklikheid was. In hierdie samewerking moes mans sowel as vrouens hul uiterstes betree in ’n poging om ’n donker toekoms te voorkom. Vir hierdie mense was die vryheid van die twee republieke onder die gevaar van die Britse skaduwee. Vrouens het op verskeie fronte soos bittereinders gewerk in hul stryd om die skaduwee, oftewel die nag, te voorkom.

Daarom sou Ella du Toit, wat vier broers in die konsentrasiekamp verloor het, haar lewe lank die volgende sê: Werkwantdienagkomnader.
     

Bibliografie

1.      Brandt, J.: The Petticoat Commando. Mills & Boon Limited, 49 Rupert Street,
      London, 1913.

2.      Breitenbach, J.J.: South Africa In The Modern World. Shute rand Shooter,      Pietermaritzburg, 1977.


3.      Fischer, M.: “Die reaksie van ’n brawe boervrou,” Oorlog Beeld, 1 Julie 1902, p. 2.

4.      Fischer, M.: kampdagboek. Human & Rousseau, Kaapstad, 1964.


5.      Giliomee, H.: Die Afrikaners: ’n Biografie. Tafelberg-Uitgewers, 2004.

6.      Grobler, J.E.H.: The War Reporter: The Anglo-Boer War Through The Eyes     Of The Burgers. Jonathan Ball Uitgewers, Johannesburg, 2004.


7.      Pakenham, T.: DIE BOERE-OORLOG. Jonathan Ball Uitgewers,         Johannesburg,             1979.

8.      Spies, S. B.: Methods of barbarism?Roberts and Kitchener and civilians in the Boer Republics, January 1900-May 1902. Human & Rousseau,    Kaapstad, 1977.





[1]     J. Brandt: The Petticoat Commando, p. 106.
[2]     T. Pakenham: DIE BOERE-OORLOG, p. 573.
[3]     H. Giliomee: Die Afrikaners: ’n Biografie, p. 206.
[4]     T. Pakenham: DIE BOERE-OORLOG, p. 573.
[5]     Ibid.
[6]     S. B. Spies: Methods of Barbarism? Roberts and Kitchener and civilians in the Boer Republics, January 1900-May 1902, p. 162.
[7]     J.J. Breitenbach (ed): South Africa in the Modern World, p. 454.
[8]     J.E.H. Grobler (ed): The War Reporter: The Anglo-Boer War Through The Eyes Of The Burghers, p. 46.
[9]     Ibid. p. 87
[10]    Ibid.
[11]    Ibid. p. 135
[12]    J. Brandt: The Petticoat Commando, p. 66.
[13]    T. Pakenham: DIE BOERE-OORLOG, p. 538.
[14]    M. Fischer: Kampdagboek, p. 7
[15]    M. Fischer: “Die reaksie van ’n brawe boervrou,” Oorlog Beeld, 1 Julie 1902, p. 2.
[16]   T. Pakenham: DIE BOERE-OORLOG, p. 538
[17]    J.E.H. Grobler (ed): The War Reporter: The Anglo-Boer War Through The Eyes Of The Burghers, p. 148
[18]    Ibid.

Monday, January 23, 2012

DOOFKOORS


Rocketship
om saam met jou te wees
is om die res van die skepping agter te laat
die kosmos onplof en ons Rocketship fluit die niks in

ons vaar ’n ruimteligjaar tot ons spoed bedaar
en skep ons eie wêreld sommer daar
met ons storm wat soos water in die kraters opgaar
gee dit ’n blink kleur soos jou oë
en  noem dit see
met ons berge hoop wat óphoop
waaroor wolke soos riviere loop
met ons lywe soos kontinente wat skuif
en rondom ons aarde na mekaar toe dryf

om saam met jou te wees
is om die skepping beter te maak

¼ 



Dood van ’n Towenaar

Sit gou stil
daar’s ietsie agter jou oor
ek het my muntstuk verloor

O nee dis ’n blom, jammer dis obviously joune
hier vat dit
breek die steeltjie af
maak dit toe in jou hand
Abra Kadabra
kyk
dis my hart
O shit dis my h-
¼ 


 
Psalm Aan Adatjie
die here herder my;
maar jy sal my ontbreek
hy lê my in droom neer op jou skoot; en ek loop oor rustelose waters
hy verswik my siel en lei my op dwaalspoor van geregtigheid, om jou naam ontwil
al gaan ek deur ’n dal van doodskaduwee kan ek geen onheil vrees nie
want die hoop is met my; dit stok, staf en vertroos my
jy brand soos ’n kers op die tafel voor my teëstanders
jy maak my hoof blink met olie
my hart loop oor
net goedheid en guns sal ek volg
ek sal in die kamer langs jou bly tot die lente van dae
(mind the gap, ek neem ’n visuele sug)
meer as ’n mossie met die vlug in jou oog
ek bid dat die here na jou sal kyk
my hart soos brood sal breek
en mandjies vol deel
genoeg sal los
vir jou
om weer vir my te steel
¼  

Monday, October 10, 2011

Wadda en die Walvis

Hoofstuk Sewe

New York’s not My Home


Dit was ’n Sondag.
Sonder enige werklike son, Sonder enige werklike dag. Wadda se gesig het al heeltemal herstel, en hy het die meeste van sy trots terug gekry. Hy het voor een van Salomo se skilderye gestaan wat nog toegedraai was in ’n groot wit lap met klein groen strepies.  ‘Wan neer kan ek nou flippenwil kyk Oom ?’ Het Wadda geïrriteerd gevra. ‘Wag net Boet, vanaand sal jy.’

Die twee het saam geloop busstop toe. Salomo het die toegedraaide skildery onder sy arm gedra. Wadda het teen sy wil skoene aangetrek, Salomo het op sekere goed nie ingegee nie.
Die kaartjies het gesê ‘Kaapstad’, en die busdrywer het bly sit soos hy dit ingeneem het.  Wadda kon by die venster sit. Salomo het stadig en met moeite gesit en deur sy groot grys snor afgeblaas.

Die bus het gery.

En gery.                                                          Ry en ry.                               Brrroooom. Ieee ! Gggrrr, Tsss. Brrrooom. Gggrr.     Etcetera.

Tussen die geraas deur kon Salomo sy opgewondenheid nie meer inhou nie. ‘Wil jy weet waaroor hierdie painting gaan ?’ Het hy gevra.
‘Nie regtig nie oom, ek wil dit net sien.’
Salomo het begin praat.
‘Dink gou mooi Wadda. Van watter persoon op aarde hou die meeste van ? Moenie nou antwoord nie, dink eers mooi. 
Ek kan met sekerheid sê my gunsteling persoon is, en was nog altyd, ’n ou vriendin wat ek ontmoet het toe ek nog in die stad gebly het.’

‘Jissis Oom, ek hoop nie dis hoekom ons nou stad toe gaan nie.’

‘Nee boet, sy’s al lankal dood.’ Het Salomo geantwoord. Daar was ’n stilte. Die maer ou man het weer probeer met sy storie :

Sy’t geverf en ek het by die Argus gewerk. Ek het haar vir minder as ’n sekonde geken toe ek geweet het dat daar nog nooit so ’n persoon geloop het nie. Ek het my tyd gevat. Soos ek haar meer gesien het, het ek self ook begin verf. Nooit meer as ’n skildery ’n maand nie. Ek het 'n paar vir haar gegee. Met elkeen wou ek haar wys hoe sy lyk. As sy my ernstig sou opneem, sou sy gedink het sy lyk soos ’n opgedonnerde kleuterprentjie met oë wat groter as haar mond is.
Na ’n ruk het sy vir my ook begin prentjies maak. Haar goed was baie kleiner, maar baie mooier en meer kosbaar.

Die jare het so voortgebliksem en sy het Amerika toe getrek. Ek het hier gebly soos ’n aartappel in die yskas. Ons het nog skilderye aan mekaar gestuur.’

‘Oom Salomo, ek dink ons moet later praat, ek’s regtig ’n bietjie moeg,’ was Wadda se gaaponderbreking. Die bus het soos ’n gerekte tape in ’n warm Datsunbakkie stadig voort geloop.

Dit was al donker toe hulle in die Stad kom. Die plek was lewendig met trompetspelers en groot tannies met somersklere vol blinkertjies en gelukkige sweet. Die bus het gestop tussen twee enorme geboue wat Wadda soos twee reuse broers aangekyk het. Die twee het tussen die mense geloop en vinnig deel van die byekolonie geword. Wadda kon nie meer wag om die skildery te sien nie. ‘Hoe lank het Oom daaraan gewerk ?’ het hy gevra.
‘Dertig jaar.’
Wadda se oë het gerek. ‘Hoe nou ? Is dit Mona-Lisa?’
‘Toe ek 30 jaar terug hoor sy’s weg, het ek besluit om ’n skildery te maak om haar in vas te vang.’
Hy het die kind by ’n stel trappies op gewys. Hulle het binne ’n gebou gekom waarin daar ’n hysbak was. Salomo het die 14de vloer se knoppie gedruk. Die vloer was een stel trappe vanaf die gebou se boonste tuintjie. Hulle moes die deur afskop om daar uit te kom. Die geraas in die stad het dit toegelaat. Dit was baie hoog. ‘Goed, Wadda, is jy reg om te sien ?’
‘Dit beter die moeite werd wees Oom, na dertig jaar en ’n hele trip Kaapstad toe.’
Salomo het net sy mond skeef gedraai. Hy het die skildery vertikaal bo sy skouers gelig. Almal wat van onder in die straat af sou opkyk, sou die strepieslap kon sien. ‘Trek jy die lap af’ het hy beveel. Wadda het so gemaak.

’n Baie bang Salomo het sy asem opgehou, asof die skildery ’n visnet was waarmee hy ’n spook kon vang. Wadda het verbaas na die prent gekyk. Dit was net blou. Een skakering blou. Soos ’n blou muur. Sonder enige vorms of lyne.

‘Ai Oom.’

Friday, October 7, 2011

Wadda en die Walvis

Hoofstuk 6
Salomo se mooiste lied
Salomo het soms gevoel asof sy hele wêreld  geskep was in ’n rekenaarlokaal. Vandag het hy nie. Die water het oor die voorkant van sy klein boothuis gespat en in die middaglig soos nat wit vonke op die hout geblink. Hy was trots op hierdie beskrywing.
Wadda het hom uitgestrek met sy visstok op sy maag. Sy rug op die warm hout van die boothuis se klein groen dak. Sy gesig het nou al begin herstel. Sy een oog was nou blou, aangesien Klitsie se voet dit swaar getref het.
‘Wadda, ek wil nou omdraai en terug na die hawe toe skiet, is dit reg met jou?’
Wadda het nie eers geantwoord nie. Hy was heeltemal te rustig. Die boot het stadig begin kantel en omgedraai na hul dorpie toe.  Salomo het teen die stuurwiel ’n beat gekap en aan homself ’n lied gesing.

Sunday, October 2, 2011

Wadda en Die Walvis

Hoofstuk vyf

Dit is seker verstaanbaar dat Klitsie ’n baie bang knaap was na die vorige hoofstuk.

Hy was nie heeltemal seker waarvoor nie. ’n Paar weke terug het die groot visserman, Petrus, hom met groot geweld weg van Wadda af gestamp. Die konflik het gestop toe twee groot vlerke uit Petrus se hemp geskeur het. Hy het daar gestaan soos ’n doodsengel. Dit het als so vinnig gebeur, en Klitsie het gewonder of hy dit nie als maar net verbeel het nie. Hy kon hierdie gebeurtenis nie aan enigiemand vertel nie. Almal sou dink hy is mal. Sy pelle wat ook daar was, was almal ook net te bang om enigiets te sê. So, as gevolg van die feit dat hy dit nie oor kon vertel nie, en ook dat hy die gebeurtenis met niemand kon deel nie, het hy besluit dat dit seker nooit regtig gebeur het nie.  Hy kon homself dus bedags goed oorreed om skool toe te gaan. Hy het selfs weer vir Wadda in die bek geruk. Hierdie keer het hy dit goed gedoen. Wadda se arm was gebreek en sy kakebeen was heeltemal af. Die bliksempie het selfs begin huil, en Klitsie het sy trots baie vinnig terug gewen. Die idee van ’n engel het hom egter gepla. Hy het aanhoudend bo hom gekyk, en net vir sekerheid sy stiefbroer se jagmes by hom gedra. Hy was ’n groot kind, en nie gewoond daaraan om bang te wees nie.

Dit was ’n ander storie in die vroeë skemer oggende by sy huis.

Dit was ’n Vrydag toe hy in sy kamer gesit het en Bybel lees. Die huis was stil maar die wind het teen sy venster gemoer soos ’n mal bobbejaan. Klitsie het gebewe. Sy bene was nog onder sy groot kombers, en sy kamer het geruik na kitskoffie en ProNutro. Sy oë was genael op die blaaie voor hom. Hy kon nie konsentreer nie.

Sy deur het oopgeswaai.

Al die gravitasiekrag in Klitsie se maag het verdwyn en sy tone het opgekrul. Daar was niks agter die deur nie. Die seun het homself vertel dat dit net die wind was. Daar moes seker ’n skrefie in die venster gewees het, en dié moes wind deurgelaat het. Hy het uit die bed uit geklim en die deur gaan toemaak. Toe het hy na sy gordyne toe geloop. Hy wou dit eers nie oopmaak nie. Wat as daar iemand agter die venster gestaan het? Wat as Petrus hom kom haal het? Die bloedrooi matrikulant het eers sy krieketkolf langsaan sy lessenaar nader getrek.

Hy het die gordyne oopgetrek. Die krieketkolf het uit sy hand geval. ’n Enorme man met blink swart vlerke het buite sy venster gestaan. Die seun het geskree. Hy het deur die kamer na sy deur toe gehardloop. Petrus het deur venster gebars. Klitsie was by die deur uit in die gang in. Die engel het gesukkel om met sy groot vlerke deur die deur te kom. Hy het die deurkosyn uitgeruk. Die res van die huis was nou ook wakker, maar niemand kon die engel of die vet prefek betyds sien nie. Teen die tyd wat Klitsie se Pa by sy kamer uitgestorm het, was die jag al buite in die straat. Klitsie het vinnig gehardloop. Petrus, in die vrees dat iemand hom sou sien, het op gevlieg in die donkerte in.

Klitsie het gehardloop met alles wat sy brandende asem aan die gang kon hou. Die son het agter hom begin opkom, maar dit was nog net ’n dreigement. In die donkerte sou die engel nog sukkel om hom te vind. Hy het na Ooste kant van die dorp gehardloop, waar hy sou kon wegkruip in die groot stukke oop veld. Die veld het gekom en hy het met sy kaal voete deur die hoë fynbosse gehardloop. Selfs in die skemerlig kon ’n mens die sien dat die veld geel van die nuwe bloeisels was. Die gronde het ver in die binneland in geloop. Klitsie het ophou hardloop en onder die bosse ingekruip. Deels omdat hy moeg was, maar ook deels omdat die lig begin opkom het, en hy nou heeltemal sigbaar sou wees. Die area rondom hom was so geel soos die son self. Die lente blommetjies het soos gapende kindertjies in die son nog kleurskynstof gekry. Klein geel bloeisels het orals geval soos Klitsie onder deur die bosse gekruip het. Vir hom het die son het heeltemal te vroeg opgekom.

Hy het vlerke gehoor. Soos ’n muis vir ’n uil het Klitsie opgekrimp en geskree. Twee enorme hande het hom aan sy enkels opgetrek in die lug in. Die seun het uit selfverdediging sy eie oë toe gemaak en sy bewussyn verloor.

Wednesday, September 28, 2011

Wadda en die Walvis

Hoofstuk 4
Salomo het elke oggend verslaap. Sy kleinerige boothuis in die hawe het so gekraak deur die nag dat geen wekker hom meer kon ophelp nie. Toe onse Wadda begin koerante aflewer het in die oggende, het dit gekom soos ’n seëning.  Wadda het seker gemaak dat hy vroeg klaar is by al die ander huise. Hy sou dan hard aan Salomo se slaapkamervenster klop en saam met die kunstenaar koffie drink. Later het Wadda selfs saam ontbyt geëet. Salomo, soos enige goeie kunstenaar, het ’n religieuse liefde gehad vir spek en eiers. Die vroeë oggendreuk van die boothuis het Wadda soms so laat daar laat bly dat hy die res van die skooldag ook moes afvat, in die hoop dat hulle sou dink hy is siek. Hy en Salomo het dan na The Hollies en selfs ’n bietjie Pink Floyd geluister.

Een oggend het Wadda en Salomo buite op die dek van die boothuis gesit. Salomo was besig om iets arbitrêrs te verf terwyl Wadda geluister het na ‘Starman’ deur Dawid Bowie. Dit moes al seker verby die derde periode gewees het, want ons held was klaarblyklik in die moeilikheid. In die verte het Wadda ’n groep skoolkinders aan sien kom.
Klitsie.
Die vet prefek het vandag geloop met ’n baie indrukwekkende haat in hom.
‘Wie de hel is dit?’ Het Salomo gevra met ’n groot stuk toast in sy mond. Hy het dit gewoonlik met regtig baie botter geëet.
‘Dis een van die prefekte by die skool, hy weet seker waar ek bank.’ Het Wadda gesê asof dit hom glad nie gepla het nie.  Sy hart het so geklop dat hy sy belt wou losser maak. Hulle sou hom nie voor die Kunstenaar slaan nie. Hy wou egter nie sy kuiers by Salomo onsmaaklik maak nie, so hy’t die ou man gegroet, vanaf die boot tot op die hawemuur gespring, en gehardloop om sy lot tegemoed te kom.

Klitsie se vet gesig het vandag gelyk soos ’n kaalgeskeerde kat met skrefies oë.

Wadda het die matrikulant gegroet.  Die res van die groep het bestaan uit nog twee ander prefekte, ’n graad 11 leerling, en laastens Dropie (’n vertraagde seun met ses vingers op sy een hand).  Dit was juis Dropie wat eerste sou praat.

‘Dink jy alweer jy’s snaaks?’ het hy gesê.
‘Ek het nie geweet jy kan al praat nie, Dropie. Wil iemand nie gou sy mond vir hom afvee nie?’ het die brawe Wadda vinnig geantwoord. Die seun van twaalf het nie altyd geweet hoe om hom self in te hou nie.  Klitsie het verby enige verwagting nog groter soos ’n ballon opgeswel.
‘Wat sê jy?’ het hy begin ‘Het jy nou net met ’n senior van ons skool gepraat?’
‘Klitsie, dit lyk vir my asof jy al hoe dommer raak, hoe lank ken jy al vir arme Dropie? Hoe moet hy nou voel? Jy weet tog dat hy ’n senior is.’ was Wadda se vinnige repliek. Sy stem was verbasend sterk en sonder enige vorm van bewe.  Klitsie se hand was vinnig in die lug. Wadda het die leeuklou teen sy wang gekry en grond toe geval.  Ver in die agtergrond het Salomo iets geskree, maar die prefekte het hulself nie veel aan hom gesteur nie. Wadda is opgetel en gedra tot by die skool.

 Agter die pawiljoen, waar alles altyd weggesteek was, het hulle hom ernstig begin seermaak. Selfs Dropie het die kind geskop. Klitsie het gespoeg en geskree en aan Wadda se hare getrek. Ons held se gesig was heeltemal ingemoer. ‘Waar’s jou blerrie engel nou?’ het die prefek soos ’n bang vark geskree.
Na ’n ruk moes hulle seker ophou. Wadda het soos dooie lammetjie gelê en huil op die grond.

Die bende het heel trots weer in die rigting van die skoolgebou  geloop.

Hande vol verf het Wadda kom optel en hawe toe gevat.

Die seun het die volgende twee dae in Salomo se boothuis deurgebring. 


Thursday, September 22, 2011

Soos belowe: Hoofstuk 3 van Wadda en die Walvis!

Hoofstuk Drie
Wadda het met mond vol bloed by die skoolhek uitgehardloop. Agterna soos ’n skaduwee of ’n nagmerrie het Klitsie aangekom. Klitsie se vet arms en hande het hom laat lyk soos ’n rooier weergawe van Winston Churchill. Sy maag het oor sy heupe gedons soos ’n waterballon wat sou bars as hy enigsins verder wou rek. Die groot monster was ’n prefek, al in matriek, en onse Wadda het wragtig op hierdie dag twaalf jaar oud geword. Dis juis hoe hierdie debakel tot afspeel gekom het. Wadda het vir sy verjaardag besluit om die hele skool ’n guns te doen.
Liewe leser, sit eers rustig terug. Die volgende deel moet jy stadig lees.
Dit het als eintlik als die vorige aand begin gebeur.  Adatjie het teen die wil van haar pa, Petrus, besluit om ’n aand deur te bring by Wadda en sy huishouding. Wadda het nie regtig veel van ’n gesin gehad nie. Sy ma het na sy geboorte gaan swem in die see, en nooit weer terug gekom nie. Sy pa het daarna homself toegesluit in sy huis, waar hy homself verbeel het dat hy ’n hanswors is. Die mense in die dorp het hom net gesien as hy vroeg soggens by die groot appelboom buite sy huis opgeklim het en heel bo gesit het. Hier het hy soos ’n geestelike bobbejaan met glas oë na die see gekyk.
Regtigwaar, kan ons by die storie hou?
Jammer.
Adatjie het besluit om ’n aand deur te bring by Wadda se huis. Die huis het bestaan uit een groot kamer met ’n enorme gat in die muur wat as ’n oond en ’n wintervuurmaakplek gedien het. Wadda en sy pa het op ’n groot bed in die middel van hierdie kamer geslaap wat Wadda gebou het uit klomp strooi en ’n ou roeiboot. Wadda het op hierdie aand ’n mosselpotjie te maak, aangesien daar ’n enorme mosselkolonie baie naby hul huis was. Die huis was warm soos die arms van ’n moeder terwyl  die buitelig vol skemer en koud was.  Wadda se Pa het elke nou en dan op sy hande gestaan en selfs amper die potjie omgestamp toe hy van by een van die dakbalke probeer swaai het tot op die bed. Buiten sy geluide en harde voetstampe het die twee kinders ’n abnormale hoeveelheid lafenis gekry in die situasie. Hulle het by die vuur gesit en luister na een die vier plate wat Wadda in sy besit gehad het. Joni Mitchell het teen die geraas van die see daar buite gesing. Adatjie het gesit met die omhulsel van die plaat (waarop al die lirieke gestaan het). Op daardie stadium was sy so klein dat sy verdwyn het agter die groot donkerblou prentjie van die sangeres. Hulle het die plaat oor en oor geluister terwyl die kole van die vuurmaakplek in stadige arbeid die mosselpotjie gaar gemaak het.
Die volgende dag het Wadda verjaar. Hy sou wou saam met Adatjie skool toe loop, maar Petrus het haar vroeër daardie oggend met die aggressie van ’n Japannese aardbewing kom haal. Dit het hom egter tyd gegee om ’n plan agtermekaar te kry. Wadda het besluit om sy platespeler en sy Joni Mitchell plaat skool toe te vat. Van hier af was sy taak eenvoudig. Hy het die platespeler agter die pawiljoen weggesteek in ’n groot tamatieboks. In pousetyd het hy dit gaan haal. Hy het toe opgesluip na die hoof se kantoor toe, en deur die agtervenster geklim. Die hoof was natuurlik besig om tee te drink in die personeelkamer, of om een van die jonger onderwyseresse met sy hygende vet longe toe te wasem.
Wadda het die platespeler by die muurprop ingedruk, en die klank direk gekoppel aan die skool se interkom.   Hy het lank gedink voor hy die regte lied gekies het. Hy het die naald van die speler opgelig en eers ’n afkondiging gemaak. ‘Haai almal, dis Wadda hier, jul supreme ruler en redder. Ek wil graag die volgende liedjie opdra aan Adatjie. Dan wil ek ook net se dat Klitsie ’n vet bliksem is en dat sy wange vol botter gesmeer word deur sy mamma.’ Die laaste deel het hy net ingevoeg net vir algemene afronding. Die lied het gevolg:
 Just before our love got lost you said
I am as constant as a northern star
And I said, constantly in the darkness
Where's that at?
If you want me I'll be in the bar

On the back of a carton coaster
In the blue TV screen light
I drew a map of Canada
Oh Canada
With your face sketched on it twice

Oh you're in my blood like holy wine
You taste so bitter and so sweet
Oh I could drink a case of you darling
And I would still be on my feet
Oh I would still be on my feet
’n Angstige oomblik van hemel daarna het Klitsie natuurlik vir Wadda gewag soos hy by die hoof se venster uitgeklim het. Dit bring ons by die eerste deel van hierdie hoofstuk. Wadda het met mond vol bloed by die skoolhek uitgehardloop. Agterna soos ’n skaduwee of ’n nagmerrie het Klitsie aangekom. Klitsie se vet arms en hande het hom laat lyk soos ’n rooier weergawe van Winston Churchill. Sy maag het oor sy heupe gedons soos ’n waterballon wat sou bars as hy enigsins verder wou rek. Die groot monster was ’n prefek, al in matriek, en Wadda het gelyk soos ’n Jack Russel wat deur ’n jellie renoster gejaag word.
Saam met Klitsie was daar ook ’n paar trawante wat soos lomp kameelperde agtervolg het om hierdie Wadda ’n brekende les te leer.  Hy kon nie huis toe hardloop nie, aangesien die groep matrikulante sy pa ook sou kon aanrand.
’n Wonderwerk het soos ’n verjaarsdagpersent gekom. Petrus, Adatjie se pa, het van die ander kant van die straat die diere sien hardloop. Wadda het hom raakgesien, maar weens hul bedenklike verhouding nie meer verwag as ’n aanpor van sy kant af nie. Wadda kon nie meer hardloop nie. Hy het homself op die grond gaan neerlê om te wag vir die res van sy houe.  Die onderstebo jellievis genaamd Klitsie het tot by hom gekom. Soos hy oor Wadda gestaan het, het ’n yslike vissermanshand hom agter aan sy nek gegryp. Klitsie is grond toe gegooi. Petrus het soos ’n kasteeldeur voor Wadda gaan staan. Klitsie het dit nie daar gelaat nie. Hy het opgestaan en ’n vuis gegooi in Petrus se rigting. Die ander kameelperde het ook nader gewring om een of ander vorm van fisiese konflik te ondersteun. Wadda kon nie veel sien nie.
Lees nou regtig stadig.
Petrus het in hierdie hele situasie niks gesê nie. Soos Klitsie hom begin vloek het, het dit gelyk asof die visserman swaarder word. Petrus se twee voete het die teerpad onder hom laat begin kraak. Klitsie se vet gesig het hier nig niks geregistreer nie. Sy trawante het wel begin bang lyk. Petrus se dun gelerige wit hemp het styfgetrek. Vinnig. Die oomblik het soos ’n kanonskoot gekom en Wadda is amper blind toe twee enorme vlerke uit Adatjie se pa se hemp skeur. Die vlerke was briljant, pikswart, wyd en groot genoeg om selfs ’n groot seun soos Klitsie in een slag dood te klap. Hy het hulle uitgestrek soos twee enorme arms. Die son is van Wadda se gesig af geneem, en êrens op aan die ander kant van sy beskermer het Klitsie en sy vriende soos huilende kleuters weggehardloop.

http://www.youtube.com/watch?v=SzJY96m3lkg