Thursday, November 25, 2010

HOE OM WEERLIG TE MAAK

1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
 1:2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.
 1:3 En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.

Hel, kan iemand net ‘n bietjie meer lig hier kom skyn. Ek sukkel om te sien waar ek my skeermes gesit het.  Ek het lig nodig. Ek het weerlig nodig.
Êrens langs die pad moes ek die geloof van ‘n kind verloor het. Ek kon dit egter  soms  vervang met met ‘n hoop in Iets Groters. Waar ek sukkel om te glo, hoop ek maar. Sonder hierdie hoop is ek niks meer as ‘n bobbejaan nie.
-Bobbejaan klim die berg.-
Ek sien hierdie bietjie hoop wat ek het as my stok. Dieselfde stok waarmee jy die waters kan skei as die egiptenare jou jaag. Met hierdie stok kan jy ook weerlig maak. Hoekom sal ek wil weerlig maak? Want weerlig is flippen cool.

-Bobbejaan klim die berg, met sy stok in sy hand. Dit het donker geword. Hy gaan hierdie donker wen.  Hy gaan weerlig maak.-

As dit donker word, en die lig van jou geloof nie meer so helder en jeugdevol skyn nie; as jy ook soos ‘n bobbejaan begin voel- doen tog die volgende: Gryp jou stok, jou laaste bietjie hoop, moed, of selfs jou verlange. Dan gaan hardloop jy tot op die hoogste punt in die area.

-Bobbejaan klim die berg, hoe hoёr hy klim, hoe nader voel hy aan God. Dit is erg bewolk en oneindiglik donker.

As jy daar bo kom, dan swaai jy jou stok in die lug. Ja, jy, ou bobbejaan, swaai jou stok. Dan skree, roep, huil, of bid jy, watokal een die beste vir jou werk. As jy dit bedoel, tel dit sekerlik automaties as gebed.
Die donker in jou maag sal dan stukkie vir stukke verlig, met klein stukkies weerlig. Ek kan jou nie waarborg dat jy ooit die hele son sal kan terug kry nie- dat jy weer die geloof van ‘n kind sal besit nie.
Ek kan jou eintlik niks belowe nie.

Ek troos my wanmoedige brein, en hopelik jou vraende oё met die volgende:

‘n Stad wat op ‘n berg lê kan nie weggesteek word nie.
Wees die (weer)lig van die wêreld.

Sunday, November 21, 2010

Die Here is my Herder


Daar is ‘n legende van ‘n stam in die woude van Nong Khai. Kwaad vir die wêreld soos dit is, het hulle besluit om ondertesbo te gaan lewe, in die hoop om die wêreld te verander. So funksioneer hulle:  gesinne, families, kinders, ouers, almal hang onderstebo. Hulle swaai met hul bene rond tussen die bome, vang klein bokkies, en pluk vrugte, terwyl die sole van hul voete bruin brand.
Hulle is almal baie gelukkig, aangesien al die bloed in hul kop hul vermoё om sleg te voel verdrink het. Die vraag is: Het hulle ooit ‘n verskil gemaak aan hierdie wêreld wat hulle so haat? Is hulle nie maar net so selfsugtig soos die mense wat die lewe vir hulle so ‘moeilik’ gemaak het nie?
Ek wil ook onderstebo gaan hang.
Partykeer voel dit asof jy en jou gemoed, jou geloof,  jou verstand, jou sanity, en selfs jou gesondheid alles balanseer op ‘n eenwielfiets op gekraakte ys bo ‘n lopende rivier van magma. Om dinge vir jou erger te maak, skree die mense van die kante af vir jou dat jy iets met jou lewe moet doen. Hulle gooi jou met hul idees van geregtigheid en hul interpretasies van daai bybelvers wat jy regtig nie vertsaan nie.
 Jou geliefdes is kwaad vir jou en jy weet nie of jou Herder nog steeds opsoek is na jou nie. Jou beker loop oor maar jy kan dit nie drink nie omdat jou mond vol van wanmoed en onsekerheid is. Jou teёstanders lag vir jou omdat jy verstik aan hierdie soeke na ‘n feёsmaal, en jy begin wonder of die lente van dae nie maar kan kom nie. Want dis koud op hierdie plek.

Dan hang jy onderstebo.

Jy gaan kry vir jou ‘n plekkie waar jy net kan relax, en by jou self kan wees-anders gaan hierdie kite nie fly nie. Hierdie dag was nou net te rof.
Jy maak ‘n fout.
Daar gaan elke dag 16 000 kinders dood van die honger terwyl jy voel dat jy besig is om gek te word.
925 miljoen mense is honger terwyl jy wonder of jy nie nou maar ‘n vakansie moet vat nie, ‘n bietjie tyd om weer in voeling te kom met jouself.
In 2008 is 9 miljoen kinders dood onder die ouderdom van vyf, terwyl jy nog opsoek was vir doel in jou lewe, en jou wiskunde huiswerk jou maagkrampe  gegee het.
Die grap is, meeste mense gee eenvoudig nie ‘n hel om nie. Hulle voel baie meer emosie oor hul eie beker, hul eie teёstanders, hul eie ‘donker’ dieptes. Want dit voel asof jy nou ‘n regte Job-leefstyl deurgaan. ‘Staan maar net vas, dit sal gou weer beter gaan.’

Kan iemand kom voel of my hart nog klop?

Ek dink ek sal moet groot word. Ek sal moet ophou dink dat ek enigsins die reg het om te voel asof ek ‘n swak hand uitgedeel is. Ek sal moet ophou dink ek is besig om mal te word, of dat ek mal is, of dat dit enigsins ‘n verskoning is.

 Jy kan nie lewe vir die aleendoel van die hemel nie. Dit sou beteken dat jy die lewe wat God nou vir jou gegee het ag as ‘n Nintendo speletjie. En as jy nie wen nie, kan jy daai wagwoord indruk, daai belydenis en  vergifnis, en dan is alles weer hunky-dori.
Dit gaan nie oor hoe jy in die hemel kan kom nie. Dit gaan oor hoe jy die hemel vir die mense rondom jou aarde toe kan bring. Jy het ‘n doel in die lewe, en vergewe my as ek ‘n bietjie vorentoe is,
maar nie ek of jy leef dit uit nie.

-Danie

Wednesday, November 17, 2010

Hier's een van myne, lees dit stadig.


-Lucky Lion

ek sit en probeer daai blerrie brief nou skryf
maar my ma is in die kamer
so ek teken ‘n duif
die duif loop oor die vierde reёl
tot vyf
o.k. sy’s nou uit,
so ek dink alweer aan jou lyf, hoe my
hand
         toe
                gly
                       en soos ‘n kunstenaarshand
stil op jou gaan bly.
dan teken ek -wag- my ma is terug -sug- hou gou aan -sy’s nou kla
‘hier’s jou tee my kind’
dankie ma
die blerrie tee is warm
ek proe jou sonder suiker
met die geloof op jou arm
my tong brand
om jou naam te sing
en enige ander Naam wat jy kies
ook tot eer te bring

-Danie du Toit.

Tuesday, November 16, 2010

'n Engelse verhaal

She was barely dressed.
Her mischief was revealing something of God’s great mystery to life. It was not there yet. Like a word on the tip of one’s tongue, the great truth seemed only to elude me. I sat on the porch, having just waved to the nearest star as it collapsed into the depths of Hell.
 There was no terminative to the moment’s maze, as there is no end to a woman’s quintessence.  I had told her that I was cold. She obliged upon my shivering lips with lavish. We sat together on a suspended chair, and she was making faces to the music only a breezy evening could provide. Her hand slipped and fell on mine as she performed an innocently guilty act of touch.
We were somewhere in the known universe, probably a little town called Paarl. I would not know, as I was drunk in the presence of the intoxicating smell of oranges.
She sat closer and the chains of suspension opposed with rusty cries. “Jy moet stil sit!” I said. Translated, I conveyed that she was not to make hasty movements. The chair was hanging from an even older roof, it could break easily.
 She removed her white blouse and started humming something Elvis wrote. She then fastened it to the chains, almost like a sail. She removed her feet from the porch, as they were bare. They found their way across my lap, as she sat even closer. I told her something that probably did not make any sense. She could understand, as I could even cotton on the hidden agenda’s of her haunted breath. She started swinging the chair. “Hey!” I said, “Jy moet stil sit!” She tittered, and made more elaborate movements. “Ek sê...” She refused my apparent hostility, and answered affably by attacking my lips, in a weird tribal kiss...
The night exploded. The chair broke loose and we flipped into space. She did not stop, even as the universe, or rather the chair, flipped around a few times. We were airborne and moving quickly. Her white blouse caught wind, and we sailed the sky. Her grip fastened. I was being offered to the gods, on a fiery altar of affection. Being somewhat of a geek, I was happy to burn on our flying chair, given that she showed me the way to being a man.
 Moments stirred as I loved her in slow motion. We passed the school and the church; we passed ambition, religion, dogma, hierarchy, anarchy, athletics, maths, scrumming practices and all the other instigators of constipation. I felt only one thing, but I cannot give it name. It was something devout, but without any fear. For a moment I felt like I could touch God. I passed on the opportunity: I received enough virtue to repel any more. We went even higher as her body shivered. We lost no speed as we went over cities of sound and light. Somewhere down on planet earth someone was still under the impression that all of this could only be a dream.

Monday, November 15, 2010

No Woman No Cry

Een vir Kapenaar

‘Allerliefste, ek stuur vir jou 'n rooiborsduif
want niemand sal 'n boodskap wat rooi is skiet nie.’*-Breytenbach
Goed, ek kon hierdie inskrywing wragtig nie sagter begin het nie, so skroom om my te beskuldig van onsensitiwiteit. Ja nee, jy’t dit nie verwag nie, en ek moet sê, die hoeveelheid hoofletters in die titel skok my ook.
Dit troos my om te sê dat ek skryf onder die invloed van beminning,  en alles deesdae effens vriendeliker lyk. (Dis nou met die uitsondering van daai Klitsie knaap, vir wie ek met my lewe vrees.)

Ek het my skooljare spandeer in Pouses en Geskiedenisklasse, waar ons aangemoedig is om te rus, te baklei, te (w)eet, te d(r)ink, en te voel. Op die barspunt van my emotiewe  beredenerings kapasiteit sal ek egter graag vanaand  wil peul aan die vrot perske van my my diepste motief: No Woman No Cry

Ja, die boonste paragraaf het ‘n bietjie baie groot woorde, en jy moes van die sinne twee keer lees. Al wat ek eintlik wou sê is: No woman no cry.
Enige galante poepol op sy blinkvosperd sal sekerlik dink dat hierdie engelse sin beteken dat sonder vrouens, mense nie sou huil nie.
Dit beteken egter iets totaal anders: Dit beteken dat jy moet gaan sit en luister na Bob Marley, en dat jy moet ophou dink aan die vuil hande wat jou knie. Dis nie so erg nie, watokal dit is. Nee, vrou, moenie huil nie.

In elk geval, dis ‘n bietjie laat, en ek gaan nou wragtig nie probeer om jou te oorreed nie, (allowel ek wou toe ek begin het met hierdie inskrywing.)
Ek het ‘n tyd terug die volgende gedig geskryf, en met die hitte daar buite dink ek dit is heel van pas. Ek dra dit op aan jou.

 Vier seisoene in jou bronspot kombuis
Bloeisels bloos blomme onder akkerbome
Jy skep jou nagte onder wakker drome
Die sag ligblou van die lentedag
Ook vanaand in jou, in lag

Somerson in jou donker tuin
Daai water streel jou lyf tot skyn
Tot rooi vanaand vir jou omring
En sag op jou mond kom sing

Herfs brons bruin van lied en stoom
Van roosmaryn tot wolke droom
Waai die wêreld weg daar buite jou huis
Is ons nog veilig in jou kombuis

Winter woed en roep na my diepste wraak
Vanaand is wat jy daarvan maak
As die nuwe weer kom, moet jy jou bene wys
Anders bly ons verewig in hierdie blerrie kombuis.

-Danie

Wednesday, November 10, 2010

Waar kom babas vandaan?

Ek weet, jy’t hierdie inskrywing kom lees omdat jy graag ook wil weet waar baba’s vandaan kom. Jammer ou maat, ek het maar net die titel gekies om jou na my blog toe te lok. Die wrede waarheid is dat ek ook eintlik nie weet nie. Maar nou dat ons hier is, en ek jou aandag het, kan ek ‘n belofte nakom. Die Inskrywing gaan vandag dus oor die ontstaan van SPOEGWOLF.
Dit was ‘n bleek woedende wintersdag in die 2de wêreld oorlog. Ek het ‘n vliegtuig beman saam met een van my kamerade. Ons het sopas opdrag gekry om ‘n klein dorp in die land Kambodja te help bombardeer. Die klein, oop vliegtuig was stil, maar beknop genoeg dat ons dit waardeer het. Die wind se geraas het alles anders tot sterwende klankloosheid verbied. Ek was voor op die stuur, en Benjamin was besig om rigting aan te wys.
“Benjamin, laat weet my waneer ons bo Laos is.” Het ek geroep.
“Als reg kameraad.” Het hy onder sy peanut botter broodjie gespoeg en gemompel.
Ons het laag begin vlieg onder die kramende wolke, die waters het ons helmets prober breek met hul huil en wraak. “Jy moet hoër vlieg, hier is te veel bome,”  het hy geroep. Ek het so gemaak. Ons het terug deur die wolke geskiet tot waar alles weer stil en sonnig was. Toe gebeur dit. Ek was nog blerriewil besig om kersfeesliedjies in my kop te sing terwyl Benjamin uit sy sitplek geklim het en op die vlerk van die vliegtuig gaan sit. “Wat in die naam van alles wat Joods is dink jy doen jy?!” het ek geroep.  
Hy het begin huil. “Ek weier om verder bomme op mense te gooi,” het hy hard gesê.
“Benjamin, ons het nie ‘n keuse nie, as ons nou terug vlieg, sterf ons op die aanklag van hoogveraad. Buitendien, dis oorlog, hulle sou dieselfde doen.” Hy het sy arm na my toe uit gestrek en ‘n brief in my in my hand gesit. “Gee dit vir Madelein Spugenberg, sê vir haar dis van Wolf.” “Spugenberg? Waar bly sy?” Het ek gevra, in ‘n poging om hom langer op die vlerk te hou. “Sy bly in die Swartland, op haar ouers se plaas. Sy’s baie skaam oor haar van, almal noem haar Spoegie.” “Benjamin, dink ‘n bietjie hieroor, jy gaan niks reg kry nie, ek gaan in elk geval daai bom gooi, of jy nou afspring of nie.”
“Wel, ou Kameraad, dan het ek nie regtig ‘n keuse nie, ek moet hierdie punt maak.” Benjamin het op die langwerpige missiel aan die vlerk vasgeheg gaan sit. Voor ek ‘n plan kon maak het hy die skuifklep los gemaak. “Sê vir my liewe Spoegie dat sy haar Wolf moet onthou!” het hy geskree. Toe sonder dat ek kon keer, het hy en die missiel losgekom van die vlerk. Hy het die wapen soos ‘n perd gery deur die wolke onder my.

Twee maande daarna het ek vir Madelein gaan besoek op haar ouers se plaas. Ek het haar die brief gegee, ek het haar vertel dat haar beminde ‘Wolf’ wou hê sy liewe ‘Spoegie’ hom nooit moet vergeet nie. Ek het haar vertel van die punt wat hy wou maak. Ek het haar vertel, dat vir die res van my lewe, ek ook daardie punt sou maak.

Daarom lees jy vandag Spoegwolf:  vir alles wat reg is, alles wat eerlik is, subliem is, weerloos is, sterk is, verlief is, en musiek is. Ek skryf vir my vriend Wolf, en Spoegie, sy verliefde.

‘Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie.’*

Danie

*Die slot van Benjamin se brief, ook ‘n deel van Psalm 23.

Tuesday, November 9, 2010

Die Groter Prentjie, Van Alles, Almal En Altyd.

Jaap van Stralend het soos ‘n vrot pampelmoes buite gesit. Die nag was nag en sy oё was swaar met weemoed, en vermoedelike rekusasie.
Hoekom is jy so stil?” het ‘n almagtige stem uit die hemel gevra.
“Ek is stil omdat ek droewig is. En ek is droewig omdat my verliefde oorkant die see moet wees.”
Moenie droewig wees nie...” het die stem gesê, “...dit is my plan met jou lewe.”
“Het ek dan nie my eie wil nie? kan ek nie my eie planne maak nie? Die huidige planne kom maar baie kakografies voor.”

Jy’t ‘n punt daar beet,” Het die stem erken, “Maar jy sien nie die groter prentjie nie.”
“Wys dit dan vir my!” Het Jaap geskree.

Binne ‘n bietjie meer as ‘n oomblik het Jaap die groter prentjie gesien. Dit het baie soos dit gelyk:















Miskien het dit nie regtig die skrif op gehad nie. Maar dit was groot, geel, rond, bont en warm.
“Wat is dit?” Het Jaap gevra.
Dit is die son.” Het die stem gesê.
“Dit kan ek sien, baie dankie, maar wat het dit met die groter prentjie uit te waai?”
Jy’t weereens ‘n punt beet,” het die stem erken “het jy ‘n rand by jou?”
“Jip, ek het.”
“Goed, Jaap, ek wil hê jy moet dit gooi na die son toe.”
Jaap het opgestaan en die muntstuk so hard as wat hy kon gegooi na die son toe. Binne oomblikke het sy muntstuk in die verte verdwyn. Vir ‘n minuut of wat het hy gewag. Toe, asof die son sy muntstuk teruggooi, het ‘n silwer geblink uit die verte gekom. Die silwer lig het al hoe groter geword, en gevaarlik naby gekom. Jaap kon sy oё nie glo nie. Die muntstuk wat hy gegooi het het verander in 'n lewende wese. Die wese het purperbrons voor hom geland, en vir hom gevra of hy haar boodskap gekry het.  Dit was sy verlore beminde van oorkant die see. Ek moet bieg dat sy ‘n bietjie anders gelyk het as gevolg van die tydjie in die son, haar neus was so effens rooi. Sy’t haar hare skaam oor haar voorkop getrek en uitasem “Haai!” gesê.
“Baie dankie!” Het hy salig geroep na die stem in die hemel.
“No problem.”



-Danie