Thursday, September 15, 2011

Wadda en die Walvis

Hoofstuk Een

Dit was ’n bleek en bedonnerde dag in ’n klein dorpie op die klamkoue Wes-kus. Wadda, wat êrens rondom twaalf was, het besluit om buite te staan, aangesien enige goeie storie so moet begin. Die blaartjies het al liggroen by die bome begin uitkom soos bang honde-ogies. Die tyding van die lente was egter nie so sterk soos die effek van die winter nie.  
Die see was donker en demoerin en Wadda het besluit om liewers nie daarna te kyk nie. Wat hy nodig gehad het, was ’n bietjie geselskap. ’n Straat weg van sy huis was die woning van die Du Jaune familie. Hul huis was die sekerlik die gevaarlikste huis in die dorp, aangesien Petrus du Jaune die kaptein van ’n lokale vissersboot was. Vir Wadda was dit natuurlik nog meer gevaarlik, siende dat hy nogal baie van Petrus se enigste dogter gehou het. Adatjie.
Met ’n hart wat deur sy trui klop het hy onbraaf aan die swaar deur van die Du Jaune familie geklop. In sy hand het hy sy enigste wapen gehad: sy Sambreel. Die volgende paar oomblikke het te vinnig gebeur om akkuraat te noteer, maar dit kan wel gesê word dat Wadda in die oë van Petrus gekyk het. Soos twee leeus het hulle mekaar begrom.  Uiteindelik het hulle soos twee hoflike Engelse mense gegroet. Die poort is oopgemaak en Wadda was toegelaat in die vissershuis-koninkryk.
Adatjie met haar bene in die lug onderstebo gesit in die sitkamer, en gemaak asof sy op die plafon trap. Sy het na verwagting nie gegroet nie. Wadda was nie juis haar gunsteling mens nie. Na ’n eeu in ’n oomblik se aarsel het ons held besluit om langs die meisie te gaan sit in dieselfde posisie. Die samesyn het nie lank gehou nie, weens haar ontmoediging en sekerlik ook sy angs.
‘Adatjie, wil jy nie saam met my buite toe gaan nie?’ het Wadda gevra met dieselfde drif wat hom aan die deur laat klop het.
‘Nee.’
Nog ’n paar oomblikke het so aangehou terwyl die reën hewiger geraak het in versoek. Die meisie het uiteindelik ingegee, miskien in ’n poging om die seunskind uit die huis te kry. Die sambreel was gereed, en het oopgeslaan met Afrikaanse bravade. So het die twee kinders vir ’n minuut of twee geloop tot hulle by die rotse op die waters gekom het. Die see was nie meer kwaad nie, maar liewer weemoedig. Die golwe het vol uitbarstings teen die rotse geslaan, en dit was nie meer duidelik of die reën of die see die oorsaak van die nattigheid was nie. Wadda en Adatjie het gaan sit. Eers het sy heeltemal te vêr gesit om enige hoop in hom nat te lei, maar die reën het haar tot onder sy sambreel in gedryf. Dank die Vader.
Wadda se mond kon nie vasklou aan enige sinvolle sinne nie, die bewe in sy maag het soos Indiaanse rookseine in wasem by sy mond uitgekom. Hy het later besluit om liewer stil te bly.
Adatjie het voor haar uitgekyk. Wadda het eintlik nêrens heen gekyk nie.
Dis op hierdie oomblik wat Wadda besluit het hy gaan ’n move maak. Hy het begin om eers ’n bietjie nader te skuif. Hy het vir haar die sambreel aangegee om vir eers vas te hou. Die reën het swaarder geword. Haar hand het koud gelyk om die sambreel se handvatsel. Hy het dit gegryp. Adatjie se gesig het rooi geword al ’n sekonde voor hy sy aanval gemaak het. Voor sy iets kon sê het ’n enorme wind opgekom.
Die twee kinders was opgelig saam met die sambreel. Dit het als so vinnig gebeur. Hulle was voor ’n droomsekonde al bo die dakke. Die rotse is onder hulle uit en hulle het bo die swellende waters gedryf in die lug. Hoër en hoër. Dit was nie regtig nodig om vas te klou nie. Kenners meen dat dit moes gelyk het soos iets uit Mary Poppins. Die wind het hulle saamgevat. Hulle was later binne die reënwolk, waar die reën van oral, selfs van onder, hulle begin natmaak het. Wadda was in sy vrees dankbaar hiervoor, aangesien sy blaas soms meegegee het in sulke bang situasies. Die sambreel het net nog opgegaan. Binnekort was hulle bo die wolk.
Adatjie het haar oë en lippe so styf toegeknyp dat sy nie eens die soen wat Wadda vir haar gegee het agtergekom het nie. Dank die Vader.

Hoofstuk twee
Op ’n klein dorpie lans die Wes-kus van Suid-Afrika het ’n mank profeet met die naam van Jonah van der Bijbel geloop. Mal soos ’n haas. Hy was berug daarvoor dat hy gedink het God gaan die klein dorpie straf. Hy het selfs op ’n dag aangekondig dat hy twee kinders langs die strand sien sit het, en dat die wind hulle opgesweep het tot bo die wolke. Hy het visse heel ingesluk en graag die bome in die rondte uitgeskel.
Hierdie kort verhaal handel egter nie oor sy lewe nie, maar oor sy begrafnis, wat deur Wadda verander is tot in ’n magiese gebeurtenis.
Die hele dorp het vergader in die onaangenaam moderne kerk, wat met die merk van die 1970’s vol mode en hoeke gelaster het.
Jonah het geen familie gehad nie, en ook nie veel vriende nie.  Sy enigste geselskap was die van Adatjie. Sy was ook die enigste persoon wat eerlik gehuil het op die dag van die begrafnis. Die kisdraers was ’n groep van drie mans en twee seuns. Wadda het hom natuurlik ook hier gevind. Soos ’n klein Napoleon het hy egter planne van sy eie gehad. As ’n seun van twaalf het hy besluit om al die kisdraers bymekaar te kry net voor die mense in die kerk begin gaan het. Die ouer mans wat aan die kis moes dra het spottend ook nader gestaan, veral Petrus, wat die klein seun se nek eintlik wou omdraai. Wat generaal Wadda gesê het, weet niemand regtig nie.
Die diens was heeltemal te lank. Die dominee, wat nooit eers in geselskap met Jonah was nie, het gesukkel om emosie te wys. Die kerk was egter vol, aangesien daar niks anders was om te doen nie. Adatjie het erg gehuil, en Wadda het langs haar gesit met ’n gesig vol jong troos. Noem dit ’n wonderwerk, maar ondanks die dominee se onemosionele diens het daar ’n verdriet oor die kerk begin sak. Die orrelspeler het haar twee vet hande in haar gesig gesit en haar kop geskud.
Die tyd het getyd en die tyd het gekom om uiteindelik die kis uit te dra. Die kerk het opgestaan teen die swaar plafon van die mortaliteitsontmoeting. Die orrelspeler het teen die wil van haar arme stoel haarself reggeskuif en met dronkswaar note die draers begelei. Wadda het skelm begin glimlag.
Toe hulle by die kerk se deur kom, net soos van die mense hul banke begin verlaat, het Wadda met ’n gebalde vuis op die kis geslaan. Die orrelspeler het soos ’n ware getroue volgeling gestop met haar dreunende lied, met haar vingers soos ’n konsert-orrelis oor die note gestreel, en begin met ’n wals. Die draers, Petrus inkluis, het met die kis terug in die kerk in begin dans. Hulle het die kis op en af geswaai, terwyl die lyk daarbinne teen die mure gestamp het. Gou het die mense in die banke nadergedrom om ook met die kis te dans. Die kus was naderhand bo die hande van die groep soos ’n rockstar in ’n stage-dive.
Petrus het vir Adatjie opgetel om en bo die kis gesit. Sy het gelyktydig gelag en gehuil, en dit het eintlik net oorgekom asof sy nies. Die mense het die kis met die meisie bo-op uitgedans tot waar die son buite met groot verwelkoming op hulle gevlek het.
Brood is gebreek, en wyn is oor die kis gegooi.


6 comments:

  1. Mal cool! wane km di volgnde hoofstuk?

    ReplyDelete
  2. Die tyd het getyd en die tyd het gekom...
    Love it en like die beskrywings. Nou wat gebeur nou verder??!

    ReplyDelete
  3. http://grooveshark.com/s/In+God+s+Hands/PVYH?src=5

    ReplyDelete