Wednesday, September 28, 2011

Wadda en die Walvis

Hoofstuk 4
Salomo het elke oggend verslaap. Sy kleinerige boothuis in die hawe het so gekraak deur die nag dat geen wekker hom meer kon ophelp nie. Toe onse Wadda begin koerante aflewer het in die oggende, het dit gekom soos ’n seëning.  Wadda het seker gemaak dat hy vroeg klaar is by al die ander huise. Hy sou dan hard aan Salomo se slaapkamervenster klop en saam met die kunstenaar koffie drink. Later het Wadda selfs saam ontbyt geëet. Salomo, soos enige goeie kunstenaar, het ’n religieuse liefde gehad vir spek en eiers. Die vroeë oggendreuk van die boothuis het Wadda soms so laat daar laat bly dat hy die res van die skooldag ook moes afvat, in die hoop dat hulle sou dink hy is siek. Hy en Salomo het dan na The Hollies en selfs ’n bietjie Pink Floyd geluister.

Een oggend het Wadda en Salomo buite op die dek van die boothuis gesit. Salomo was besig om iets arbitrêrs te verf terwyl Wadda geluister het na ‘Starman’ deur Dawid Bowie. Dit moes al seker verby die derde periode gewees het, want ons held was klaarblyklik in die moeilikheid. In die verte het Wadda ’n groep skoolkinders aan sien kom.
Klitsie.
Die vet prefek het vandag geloop met ’n baie indrukwekkende haat in hom.
‘Wie de hel is dit?’ Het Salomo gevra met ’n groot stuk toast in sy mond. Hy het dit gewoonlik met regtig baie botter geëet.
‘Dis een van die prefekte by die skool, hy weet seker waar ek bank.’ Het Wadda gesê asof dit hom glad nie gepla het nie.  Sy hart het so geklop dat hy sy belt wou losser maak. Hulle sou hom nie voor die Kunstenaar slaan nie. Hy wou egter nie sy kuiers by Salomo onsmaaklik maak nie, so hy’t die ou man gegroet, vanaf die boot tot op die hawemuur gespring, en gehardloop om sy lot tegemoed te kom.

Klitsie se vet gesig het vandag gelyk soos ’n kaalgeskeerde kat met skrefies oë.

Wadda het die matrikulant gegroet.  Die res van die groep het bestaan uit nog twee ander prefekte, ’n graad 11 leerling, en laastens Dropie (’n vertraagde seun met ses vingers op sy een hand).  Dit was juis Dropie wat eerste sou praat.

‘Dink jy alweer jy’s snaaks?’ het hy gesê.
‘Ek het nie geweet jy kan al praat nie, Dropie. Wil iemand nie gou sy mond vir hom afvee nie?’ het die brawe Wadda vinnig geantwoord. Die seun van twaalf het nie altyd geweet hoe om hom self in te hou nie.  Klitsie het verby enige verwagting nog groter soos ’n ballon opgeswel.
‘Wat sê jy?’ het hy begin ‘Het jy nou net met ’n senior van ons skool gepraat?’
‘Klitsie, dit lyk vir my asof jy al hoe dommer raak, hoe lank ken jy al vir arme Dropie? Hoe moet hy nou voel? Jy weet tog dat hy ’n senior is.’ was Wadda se vinnige repliek. Sy stem was verbasend sterk en sonder enige vorm van bewe.  Klitsie se hand was vinnig in die lug. Wadda het die leeuklou teen sy wang gekry en grond toe geval.  Ver in die agtergrond het Salomo iets geskree, maar die prefekte het hulself nie veel aan hom gesteur nie. Wadda is opgetel en gedra tot by die skool.

 Agter die pawiljoen, waar alles altyd weggesteek was, het hulle hom ernstig begin seermaak. Selfs Dropie het die kind geskop. Klitsie het gespoeg en geskree en aan Wadda se hare getrek. Ons held se gesig was heeltemal ingemoer. ‘Waar’s jou blerrie engel nou?’ het die prefek soos ’n bang vark geskree.
Na ’n ruk moes hulle seker ophou. Wadda het soos dooie lammetjie gelê en huil op die grond.

Die bende het heel trots weer in die rigting van die skoolgebou  geloop.

Hande vol verf het Wadda kom optel en hawe toe gevat.

Die seun het die volgende twee dae in Salomo se boothuis deurgebring. 


No comments:

Post a Comment