Monday, October 10, 2011

Wadda en die Walvis

Hoofstuk Sewe

New York’s not My Home


Dit was ’n Sondag.
Sonder enige werklike son, Sonder enige werklike dag. Wadda se gesig het al heeltemal herstel, en hy het die meeste van sy trots terug gekry. Hy het voor een van Salomo se skilderye gestaan wat nog toegedraai was in ’n groot wit lap met klein groen strepies.  ‘Wan neer kan ek nou flippenwil kyk Oom ?’ Het Wadda geïrriteerd gevra. ‘Wag net Boet, vanaand sal jy.’

Die twee het saam geloop busstop toe. Salomo het die toegedraaide skildery onder sy arm gedra. Wadda het teen sy wil skoene aangetrek, Salomo het op sekere goed nie ingegee nie.
Die kaartjies het gesê ‘Kaapstad’, en die busdrywer het bly sit soos hy dit ingeneem het.  Wadda kon by die venster sit. Salomo het stadig en met moeite gesit en deur sy groot grys snor afgeblaas.

Die bus het gery.

En gery.                                                          Ry en ry.                               Brrroooom. Ieee ! Gggrrr, Tsss. Brrrooom. Gggrr.     Etcetera.

Tussen die geraas deur kon Salomo sy opgewondenheid nie meer inhou nie. ‘Wil jy weet waaroor hierdie painting gaan ?’ Het hy gevra.
‘Nie regtig nie oom, ek wil dit net sien.’
Salomo het begin praat.
‘Dink gou mooi Wadda. Van watter persoon op aarde hou die meeste van ? Moenie nou antwoord nie, dink eers mooi. 
Ek kan met sekerheid sê my gunsteling persoon is, en was nog altyd, ’n ou vriendin wat ek ontmoet het toe ek nog in die stad gebly het.’

‘Jissis Oom, ek hoop nie dis hoekom ons nou stad toe gaan nie.’

‘Nee boet, sy’s al lankal dood.’ Het Salomo geantwoord. Daar was ’n stilte. Die maer ou man het weer probeer met sy storie :

Sy’t geverf en ek het by die Argus gewerk. Ek het haar vir minder as ’n sekonde geken toe ek geweet het dat daar nog nooit so ’n persoon geloop het nie. Ek het my tyd gevat. Soos ek haar meer gesien het, het ek self ook begin verf. Nooit meer as ’n skildery ’n maand nie. Ek het 'n paar vir haar gegee. Met elkeen wou ek haar wys hoe sy lyk. As sy my ernstig sou opneem, sou sy gedink het sy lyk soos ’n opgedonnerde kleuterprentjie met oë wat groter as haar mond is.
Na ’n ruk het sy vir my ook begin prentjies maak. Haar goed was baie kleiner, maar baie mooier en meer kosbaar.

Die jare het so voortgebliksem en sy het Amerika toe getrek. Ek het hier gebly soos ’n aartappel in die yskas. Ons het nog skilderye aan mekaar gestuur.’

‘Oom Salomo, ek dink ons moet later praat, ek’s regtig ’n bietjie moeg,’ was Wadda se gaaponderbreking. Die bus het soos ’n gerekte tape in ’n warm Datsunbakkie stadig voort geloop.

Dit was al donker toe hulle in die Stad kom. Die plek was lewendig met trompetspelers en groot tannies met somersklere vol blinkertjies en gelukkige sweet. Die bus het gestop tussen twee enorme geboue wat Wadda soos twee reuse broers aangekyk het. Die twee het tussen die mense geloop en vinnig deel van die byekolonie geword. Wadda kon nie meer wag om die skildery te sien nie. ‘Hoe lank het Oom daaraan gewerk ?’ het hy gevra.
‘Dertig jaar.’
Wadda se oë het gerek. ‘Hoe nou ? Is dit Mona-Lisa?’
‘Toe ek 30 jaar terug hoor sy’s weg, het ek besluit om ’n skildery te maak om haar in vas te vang.’
Hy het die kind by ’n stel trappies op gewys. Hulle het binne ’n gebou gekom waarin daar ’n hysbak was. Salomo het die 14de vloer se knoppie gedruk. Die vloer was een stel trappe vanaf die gebou se boonste tuintjie. Hulle moes die deur afskop om daar uit te kom. Die geraas in die stad het dit toegelaat. Dit was baie hoog. ‘Goed, Wadda, is jy reg om te sien ?’
‘Dit beter die moeite werd wees Oom, na dertig jaar en ’n hele trip Kaapstad toe.’
Salomo het net sy mond skeef gedraai. Hy het die skildery vertikaal bo sy skouers gelig. Almal wat van onder in die straat af sou opkyk, sou die strepieslap kon sien. ‘Trek jy die lap af’ het hy beveel. Wadda het so gemaak.

’n Baie bang Salomo het sy asem opgehou, asof die skildery ’n visnet was waarmee hy ’n spook kon vang. Wadda het verbaas na die prent gekyk. Dit was net blou. Een skakering blou. Soos ’n blou muur. Sonder enige vorms of lyne.

‘Ai Oom.’

Friday, October 7, 2011

Wadda en die Walvis

Hoofstuk 6
Salomo se mooiste lied
Salomo het soms gevoel asof sy hele wêreld  geskep was in ’n rekenaarlokaal. Vandag het hy nie. Die water het oor die voorkant van sy klein boothuis gespat en in die middaglig soos nat wit vonke op die hout geblink. Hy was trots op hierdie beskrywing.
Wadda het hom uitgestrek met sy visstok op sy maag. Sy rug op die warm hout van die boothuis se klein groen dak. Sy gesig het nou al begin herstel. Sy een oog was nou blou, aangesien Klitsie se voet dit swaar getref het.
‘Wadda, ek wil nou omdraai en terug na die hawe toe skiet, is dit reg met jou?’
Wadda het nie eers geantwoord nie. Hy was heeltemal te rustig. Die boot het stadig begin kantel en omgedraai na hul dorpie toe.  Salomo het teen die stuurwiel ’n beat gekap en aan homself ’n lied gesing.

Sunday, October 2, 2011

Wadda en Die Walvis

Hoofstuk vyf

Dit is seker verstaanbaar dat Klitsie ’n baie bang knaap was na die vorige hoofstuk.

Hy was nie heeltemal seker waarvoor nie. ’n Paar weke terug het die groot visserman, Petrus, hom met groot geweld weg van Wadda af gestamp. Die konflik het gestop toe twee groot vlerke uit Petrus se hemp geskeur het. Hy het daar gestaan soos ’n doodsengel. Dit het als so vinnig gebeur, en Klitsie het gewonder of hy dit nie als maar net verbeel het nie. Hy kon hierdie gebeurtenis nie aan enigiemand vertel nie. Almal sou dink hy is mal. Sy pelle wat ook daar was, was almal ook net te bang om enigiets te sê. So, as gevolg van die feit dat hy dit nie oor kon vertel nie, en ook dat hy die gebeurtenis met niemand kon deel nie, het hy besluit dat dit seker nooit regtig gebeur het nie.  Hy kon homself dus bedags goed oorreed om skool toe te gaan. Hy het selfs weer vir Wadda in die bek geruk. Hierdie keer het hy dit goed gedoen. Wadda se arm was gebreek en sy kakebeen was heeltemal af. Die bliksempie het selfs begin huil, en Klitsie het sy trots baie vinnig terug gewen. Die idee van ’n engel het hom egter gepla. Hy het aanhoudend bo hom gekyk, en net vir sekerheid sy stiefbroer se jagmes by hom gedra. Hy was ’n groot kind, en nie gewoond daaraan om bang te wees nie.

Dit was ’n ander storie in die vroeë skemer oggende by sy huis.

Dit was ’n Vrydag toe hy in sy kamer gesit het en Bybel lees. Die huis was stil maar die wind het teen sy venster gemoer soos ’n mal bobbejaan. Klitsie het gebewe. Sy bene was nog onder sy groot kombers, en sy kamer het geruik na kitskoffie en ProNutro. Sy oë was genael op die blaaie voor hom. Hy kon nie konsentreer nie.

Sy deur het oopgeswaai.

Al die gravitasiekrag in Klitsie se maag het verdwyn en sy tone het opgekrul. Daar was niks agter die deur nie. Die seun het homself vertel dat dit net die wind was. Daar moes seker ’n skrefie in die venster gewees het, en dié moes wind deurgelaat het. Hy het uit die bed uit geklim en die deur gaan toemaak. Toe het hy na sy gordyne toe geloop. Hy wou dit eers nie oopmaak nie. Wat as daar iemand agter die venster gestaan het? Wat as Petrus hom kom haal het? Die bloedrooi matrikulant het eers sy krieketkolf langsaan sy lessenaar nader getrek.

Hy het die gordyne oopgetrek. Die krieketkolf het uit sy hand geval. ’n Enorme man met blink swart vlerke het buite sy venster gestaan. Die seun het geskree. Hy het deur die kamer na sy deur toe gehardloop. Petrus het deur venster gebars. Klitsie was by die deur uit in die gang in. Die engel het gesukkel om met sy groot vlerke deur die deur te kom. Hy het die deurkosyn uitgeruk. Die res van die huis was nou ook wakker, maar niemand kon die engel of die vet prefek betyds sien nie. Teen die tyd wat Klitsie se Pa by sy kamer uitgestorm het, was die jag al buite in die straat. Klitsie het vinnig gehardloop. Petrus, in die vrees dat iemand hom sou sien, het op gevlieg in die donkerte in.

Klitsie het gehardloop met alles wat sy brandende asem aan die gang kon hou. Die son het agter hom begin opkom, maar dit was nog net ’n dreigement. In die donkerte sou die engel nog sukkel om hom te vind. Hy het na Ooste kant van die dorp gehardloop, waar hy sou kon wegkruip in die groot stukke oop veld. Die veld het gekom en hy het met sy kaal voete deur die hoë fynbosse gehardloop. Selfs in die skemerlig kon ’n mens die sien dat die veld geel van die nuwe bloeisels was. Die gronde het ver in die binneland in geloop. Klitsie het ophou hardloop en onder die bosse ingekruip. Deels omdat hy moeg was, maar ook deels omdat die lig begin opkom het, en hy nou heeltemal sigbaar sou wees. Die area rondom hom was so geel soos die son self. Die lente blommetjies het soos gapende kindertjies in die son nog kleurskynstof gekry. Klein geel bloeisels het orals geval soos Klitsie onder deur die bosse gekruip het. Vir hom het die son het heeltemal te vroeg opgekom.

Hy het vlerke gehoor. Soos ’n muis vir ’n uil het Klitsie opgekrimp en geskree. Twee enorme hande het hom aan sy enkels opgetrek in die lug in. Die seun het uit selfverdediging sy eie oë toe gemaak en sy bewussyn verloor.

Wednesday, September 28, 2011

Wadda en die Walvis

Hoofstuk 4
Salomo het elke oggend verslaap. Sy kleinerige boothuis in die hawe het so gekraak deur die nag dat geen wekker hom meer kon ophelp nie. Toe onse Wadda begin koerante aflewer het in die oggende, het dit gekom soos ’n seëning.  Wadda het seker gemaak dat hy vroeg klaar is by al die ander huise. Hy sou dan hard aan Salomo se slaapkamervenster klop en saam met die kunstenaar koffie drink. Later het Wadda selfs saam ontbyt geëet. Salomo, soos enige goeie kunstenaar, het ’n religieuse liefde gehad vir spek en eiers. Die vroeë oggendreuk van die boothuis het Wadda soms so laat daar laat bly dat hy die res van die skooldag ook moes afvat, in die hoop dat hulle sou dink hy is siek. Hy en Salomo het dan na The Hollies en selfs ’n bietjie Pink Floyd geluister.

Een oggend het Wadda en Salomo buite op die dek van die boothuis gesit. Salomo was besig om iets arbitrêrs te verf terwyl Wadda geluister het na ‘Starman’ deur Dawid Bowie. Dit moes al seker verby die derde periode gewees het, want ons held was klaarblyklik in die moeilikheid. In die verte het Wadda ’n groep skoolkinders aan sien kom.
Klitsie.
Die vet prefek het vandag geloop met ’n baie indrukwekkende haat in hom.
‘Wie de hel is dit?’ Het Salomo gevra met ’n groot stuk toast in sy mond. Hy het dit gewoonlik met regtig baie botter geëet.
‘Dis een van die prefekte by die skool, hy weet seker waar ek bank.’ Het Wadda gesê asof dit hom glad nie gepla het nie.  Sy hart het so geklop dat hy sy belt wou losser maak. Hulle sou hom nie voor die Kunstenaar slaan nie. Hy wou egter nie sy kuiers by Salomo onsmaaklik maak nie, so hy’t die ou man gegroet, vanaf die boot tot op die hawemuur gespring, en gehardloop om sy lot tegemoed te kom.

Klitsie se vet gesig het vandag gelyk soos ’n kaalgeskeerde kat met skrefies oë.

Wadda het die matrikulant gegroet.  Die res van die groep het bestaan uit nog twee ander prefekte, ’n graad 11 leerling, en laastens Dropie (’n vertraagde seun met ses vingers op sy een hand).  Dit was juis Dropie wat eerste sou praat.

‘Dink jy alweer jy’s snaaks?’ het hy gesê.
‘Ek het nie geweet jy kan al praat nie, Dropie. Wil iemand nie gou sy mond vir hom afvee nie?’ het die brawe Wadda vinnig geantwoord. Die seun van twaalf het nie altyd geweet hoe om hom self in te hou nie.  Klitsie het verby enige verwagting nog groter soos ’n ballon opgeswel.
‘Wat sê jy?’ het hy begin ‘Het jy nou net met ’n senior van ons skool gepraat?’
‘Klitsie, dit lyk vir my asof jy al hoe dommer raak, hoe lank ken jy al vir arme Dropie? Hoe moet hy nou voel? Jy weet tog dat hy ’n senior is.’ was Wadda se vinnige repliek. Sy stem was verbasend sterk en sonder enige vorm van bewe.  Klitsie se hand was vinnig in die lug. Wadda het die leeuklou teen sy wang gekry en grond toe geval.  Ver in die agtergrond het Salomo iets geskree, maar die prefekte het hulself nie veel aan hom gesteur nie. Wadda is opgetel en gedra tot by die skool.

 Agter die pawiljoen, waar alles altyd weggesteek was, het hulle hom ernstig begin seermaak. Selfs Dropie het die kind geskop. Klitsie het gespoeg en geskree en aan Wadda se hare getrek. Ons held se gesig was heeltemal ingemoer. ‘Waar’s jou blerrie engel nou?’ het die prefek soos ’n bang vark geskree.
Na ’n ruk moes hulle seker ophou. Wadda het soos dooie lammetjie gelê en huil op die grond.

Die bende het heel trots weer in die rigting van die skoolgebou  geloop.

Hande vol verf het Wadda kom optel en hawe toe gevat.

Die seun het die volgende twee dae in Salomo se boothuis deurgebring. 


Thursday, September 22, 2011

Soos belowe: Hoofstuk 3 van Wadda en die Walvis!

Hoofstuk Drie
Wadda het met mond vol bloed by die skoolhek uitgehardloop. Agterna soos ’n skaduwee of ’n nagmerrie het Klitsie aangekom. Klitsie se vet arms en hande het hom laat lyk soos ’n rooier weergawe van Winston Churchill. Sy maag het oor sy heupe gedons soos ’n waterballon wat sou bars as hy enigsins verder wou rek. Die groot monster was ’n prefek, al in matriek, en onse Wadda het wragtig op hierdie dag twaalf jaar oud geword. Dis juis hoe hierdie debakel tot afspeel gekom het. Wadda het vir sy verjaardag besluit om die hele skool ’n guns te doen.
Liewe leser, sit eers rustig terug. Die volgende deel moet jy stadig lees.
Dit het als eintlik als die vorige aand begin gebeur.  Adatjie het teen die wil van haar pa, Petrus, besluit om ’n aand deur te bring by Wadda en sy huishouding. Wadda het nie regtig veel van ’n gesin gehad nie. Sy ma het na sy geboorte gaan swem in die see, en nooit weer terug gekom nie. Sy pa het daarna homself toegesluit in sy huis, waar hy homself verbeel het dat hy ’n hanswors is. Die mense in die dorp het hom net gesien as hy vroeg soggens by die groot appelboom buite sy huis opgeklim het en heel bo gesit het. Hier het hy soos ’n geestelike bobbejaan met glas oë na die see gekyk.
Regtigwaar, kan ons by die storie hou?
Jammer.
Adatjie het besluit om ’n aand deur te bring by Wadda se huis. Die huis het bestaan uit een groot kamer met ’n enorme gat in die muur wat as ’n oond en ’n wintervuurmaakplek gedien het. Wadda en sy pa het op ’n groot bed in die middel van hierdie kamer geslaap wat Wadda gebou het uit klomp strooi en ’n ou roeiboot. Wadda het op hierdie aand ’n mosselpotjie te maak, aangesien daar ’n enorme mosselkolonie baie naby hul huis was. Die huis was warm soos die arms van ’n moeder terwyl  die buitelig vol skemer en koud was.  Wadda se Pa het elke nou en dan op sy hande gestaan en selfs amper die potjie omgestamp toe hy van by een van die dakbalke probeer swaai het tot op die bed. Buiten sy geluide en harde voetstampe het die twee kinders ’n abnormale hoeveelheid lafenis gekry in die situasie. Hulle het by die vuur gesit en luister na een die vier plate wat Wadda in sy besit gehad het. Joni Mitchell het teen die geraas van die see daar buite gesing. Adatjie het gesit met die omhulsel van die plaat (waarop al die lirieke gestaan het). Op daardie stadium was sy so klein dat sy verdwyn het agter die groot donkerblou prentjie van die sangeres. Hulle het die plaat oor en oor geluister terwyl die kole van die vuurmaakplek in stadige arbeid die mosselpotjie gaar gemaak het.
Die volgende dag het Wadda verjaar. Hy sou wou saam met Adatjie skool toe loop, maar Petrus het haar vroeër daardie oggend met die aggressie van ’n Japannese aardbewing kom haal. Dit het hom egter tyd gegee om ’n plan agtermekaar te kry. Wadda het besluit om sy platespeler en sy Joni Mitchell plaat skool toe te vat. Van hier af was sy taak eenvoudig. Hy het die platespeler agter die pawiljoen weggesteek in ’n groot tamatieboks. In pousetyd het hy dit gaan haal. Hy het toe opgesluip na die hoof se kantoor toe, en deur die agtervenster geklim. Die hoof was natuurlik besig om tee te drink in die personeelkamer, of om een van die jonger onderwyseresse met sy hygende vet longe toe te wasem.
Wadda het die platespeler by die muurprop ingedruk, en die klank direk gekoppel aan die skool se interkom.   Hy het lank gedink voor hy die regte lied gekies het. Hy het die naald van die speler opgelig en eers ’n afkondiging gemaak. ‘Haai almal, dis Wadda hier, jul supreme ruler en redder. Ek wil graag die volgende liedjie opdra aan Adatjie. Dan wil ek ook net se dat Klitsie ’n vet bliksem is en dat sy wange vol botter gesmeer word deur sy mamma.’ Die laaste deel het hy net ingevoeg net vir algemene afronding. Die lied het gevolg:
 Just before our love got lost you said
I am as constant as a northern star
And I said, constantly in the darkness
Where's that at?
If you want me I'll be in the bar

On the back of a carton coaster
In the blue TV screen light
I drew a map of Canada
Oh Canada
With your face sketched on it twice

Oh you're in my blood like holy wine
You taste so bitter and so sweet
Oh I could drink a case of you darling
And I would still be on my feet
Oh I would still be on my feet
’n Angstige oomblik van hemel daarna het Klitsie natuurlik vir Wadda gewag soos hy by die hoof se venster uitgeklim het. Dit bring ons by die eerste deel van hierdie hoofstuk. Wadda het met mond vol bloed by die skoolhek uitgehardloop. Agterna soos ’n skaduwee of ’n nagmerrie het Klitsie aangekom. Klitsie se vet arms en hande het hom laat lyk soos ’n rooier weergawe van Winston Churchill. Sy maag het oor sy heupe gedons soos ’n waterballon wat sou bars as hy enigsins verder wou rek. Die groot monster was ’n prefek, al in matriek, en Wadda het gelyk soos ’n Jack Russel wat deur ’n jellie renoster gejaag word.
Saam met Klitsie was daar ook ’n paar trawante wat soos lomp kameelperde agtervolg het om hierdie Wadda ’n brekende les te leer.  Hy kon nie huis toe hardloop nie, aangesien die groep matrikulante sy pa ook sou kon aanrand.
’n Wonderwerk het soos ’n verjaarsdagpersent gekom. Petrus, Adatjie se pa, het van die ander kant van die straat die diere sien hardloop. Wadda het hom raakgesien, maar weens hul bedenklike verhouding nie meer verwag as ’n aanpor van sy kant af nie. Wadda kon nie meer hardloop nie. Hy het homself op die grond gaan neerlê om te wag vir die res van sy houe.  Die onderstebo jellievis genaamd Klitsie het tot by hom gekom. Soos hy oor Wadda gestaan het, het ’n yslike vissermanshand hom agter aan sy nek gegryp. Klitsie is grond toe gegooi. Petrus het soos ’n kasteeldeur voor Wadda gaan staan. Klitsie het dit nie daar gelaat nie. Hy het opgestaan en ’n vuis gegooi in Petrus se rigting. Die ander kameelperde het ook nader gewring om een of ander vorm van fisiese konflik te ondersteun. Wadda kon nie veel sien nie.
Lees nou regtig stadig.
Petrus het in hierdie hele situasie niks gesê nie. Soos Klitsie hom begin vloek het, het dit gelyk asof die visserman swaarder word. Petrus se twee voete het die teerpad onder hom laat begin kraak. Klitsie se vet gesig het hier nig niks geregistreer nie. Sy trawante het wel begin bang lyk. Petrus se dun gelerige wit hemp het styfgetrek. Vinnig. Die oomblik het soos ’n kanonskoot gekom en Wadda is amper blind toe twee enorme vlerke uit Adatjie se pa se hemp skeur. Die vlerke was briljant, pikswart, wyd en groot genoeg om selfs ’n groot seun soos Klitsie in een slag dood te klap. Hy het hulle uitgestrek soos twee enorme arms. Die son is van Wadda se gesig af geneem, en êrens op aan die ander kant van sy beskermer het Klitsie en sy vriende soos huilende kleuters weggehardloop.

http://www.youtube.com/watch?v=SzJY96m3lkg

Thursday, September 15, 2011

Wadda en die Walvis

Hoofstuk Een

Dit was ’n bleek en bedonnerde dag in ’n klein dorpie op die klamkoue Wes-kus. Wadda, wat êrens rondom twaalf was, het besluit om buite te staan, aangesien enige goeie storie so moet begin. Die blaartjies het al liggroen by die bome begin uitkom soos bang honde-ogies. Die tyding van die lente was egter nie so sterk soos die effek van die winter nie.  
Die see was donker en demoerin en Wadda het besluit om liewers nie daarna te kyk nie. Wat hy nodig gehad het, was ’n bietjie geselskap. ’n Straat weg van sy huis was die woning van die Du Jaune familie. Hul huis was die sekerlik die gevaarlikste huis in die dorp, aangesien Petrus du Jaune die kaptein van ’n lokale vissersboot was. Vir Wadda was dit natuurlik nog meer gevaarlik, siende dat hy nogal baie van Petrus se enigste dogter gehou het. Adatjie.
Met ’n hart wat deur sy trui klop het hy onbraaf aan die swaar deur van die Du Jaune familie geklop. In sy hand het hy sy enigste wapen gehad: sy Sambreel. Die volgende paar oomblikke het te vinnig gebeur om akkuraat te noteer, maar dit kan wel gesê word dat Wadda in die oë van Petrus gekyk het. Soos twee leeus het hulle mekaar begrom.  Uiteindelik het hulle soos twee hoflike Engelse mense gegroet. Die poort is oopgemaak en Wadda was toegelaat in die vissershuis-koninkryk.
Adatjie met haar bene in die lug onderstebo gesit in die sitkamer, en gemaak asof sy op die plafon trap. Sy het na verwagting nie gegroet nie. Wadda was nie juis haar gunsteling mens nie. Na ’n eeu in ’n oomblik se aarsel het ons held besluit om langs die meisie te gaan sit in dieselfde posisie. Die samesyn het nie lank gehou nie, weens haar ontmoediging en sekerlik ook sy angs.
‘Adatjie, wil jy nie saam met my buite toe gaan nie?’ het Wadda gevra met dieselfde drif wat hom aan die deur laat klop het.
‘Nee.’
Nog ’n paar oomblikke het so aangehou terwyl die reën hewiger geraak het in versoek. Die meisie het uiteindelik ingegee, miskien in ’n poging om die seunskind uit die huis te kry. Die sambreel was gereed, en het oopgeslaan met Afrikaanse bravade. So het die twee kinders vir ’n minuut of twee geloop tot hulle by die rotse op die waters gekom het. Die see was nie meer kwaad nie, maar liewer weemoedig. Die golwe het vol uitbarstings teen die rotse geslaan, en dit was nie meer duidelik of die reën of die see die oorsaak van die nattigheid was nie. Wadda en Adatjie het gaan sit. Eers het sy heeltemal te vêr gesit om enige hoop in hom nat te lei, maar die reën het haar tot onder sy sambreel in gedryf. Dank die Vader.
Wadda se mond kon nie vasklou aan enige sinvolle sinne nie, die bewe in sy maag het soos Indiaanse rookseine in wasem by sy mond uitgekom. Hy het later besluit om liewer stil te bly.
Adatjie het voor haar uitgekyk. Wadda het eintlik nêrens heen gekyk nie.
Dis op hierdie oomblik wat Wadda besluit het hy gaan ’n move maak. Hy het begin om eers ’n bietjie nader te skuif. Hy het vir haar die sambreel aangegee om vir eers vas te hou. Die reën het swaarder geword. Haar hand het koud gelyk om die sambreel se handvatsel. Hy het dit gegryp. Adatjie se gesig het rooi geword al ’n sekonde voor hy sy aanval gemaak het. Voor sy iets kon sê het ’n enorme wind opgekom.
Die twee kinders was opgelig saam met die sambreel. Dit het als so vinnig gebeur. Hulle was voor ’n droomsekonde al bo die dakke. Die rotse is onder hulle uit en hulle het bo die swellende waters gedryf in die lug. Hoër en hoër. Dit was nie regtig nodig om vas te klou nie. Kenners meen dat dit moes gelyk het soos iets uit Mary Poppins. Die wind het hulle saamgevat. Hulle was later binne die reënwolk, waar die reën van oral, selfs van onder, hulle begin natmaak het. Wadda was in sy vrees dankbaar hiervoor, aangesien sy blaas soms meegegee het in sulke bang situasies. Die sambreel het net nog opgegaan. Binnekort was hulle bo die wolk.
Adatjie het haar oë en lippe so styf toegeknyp dat sy nie eens die soen wat Wadda vir haar gegee het agtergekom het nie. Dank die Vader.

Hoofstuk twee
Op ’n klein dorpie lans die Wes-kus van Suid-Afrika het ’n mank profeet met die naam van Jonah van der Bijbel geloop. Mal soos ’n haas. Hy was berug daarvoor dat hy gedink het God gaan die klein dorpie straf. Hy het selfs op ’n dag aangekondig dat hy twee kinders langs die strand sien sit het, en dat die wind hulle opgesweep het tot bo die wolke. Hy het visse heel ingesluk en graag die bome in die rondte uitgeskel.
Hierdie kort verhaal handel egter nie oor sy lewe nie, maar oor sy begrafnis, wat deur Wadda verander is tot in ’n magiese gebeurtenis.
Die hele dorp het vergader in die onaangenaam moderne kerk, wat met die merk van die 1970’s vol mode en hoeke gelaster het.
Jonah het geen familie gehad nie, en ook nie veel vriende nie.  Sy enigste geselskap was die van Adatjie. Sy was ook die enigste persoon wat eerlik gehuil het op die dag van die begrafnis. Die kisdraers was ’n groep van drie mans en twee seuns. Wadda het hom natuurlik ook hier gevind. Soos ’n klein Napoleon het hy egter planne van sy eie gehad. As ’n seun van twaalf het hy besluit om al die kisdraers bymekaar te kry net voor die mense in die kerk begin gaan het. Die ouer mans wat aan die kis moes dra het spottend ook nader gestaan, veral Petrus, wat die klein seun se nek eintlik wou omdraai. Wat generaal Wadda gesê het, weet niemand regtig nie.
Die diens was heeltemal te lank. Die dominee, wat nooit eers in geselskap met Jonah was nie, het gesukkel om emosie te wys. Die kerk was egter vol, aangesien daar niks anders was om te doen nie. Adatjie het erg gehuil, en Wadda het langs haar gesit met ’n gesig vol jong troos. Noem dit ’n wonderwerk, maar ondanks die dominee se onemosionele diens het daar ’n verdriet oor die kerk begin sak. Die orrelspeler het haar twee vet hande in haar gesig gesit en haar kop geskud.
Die tyd het getyd en die tyd het gekom om uiteindelik die kis uit te dra. Die kerk het opgestaan teen die swaar plafon van die mortaliteitsontmoeting. Die orrelspeler het teen die wil van haar arme stoel haarself reggeskuif en met dronkswaar note die draers begelei. Wadda het skelm begin glimlag.
Toe hulle by die kerk se deur kom, net soos van die mense hul banke begin verlaat, het Wadda met ’n gebalde vuis op die kis geslaan. Die orrelspeler het soos ’n ware getroue volgeling gestop met haar dreunende lied, met haar vingers soos ’n konsert-orrelis oor die note gestreel, en begin met ’n wals. Die draers, Petrus inkluis, het met die kis terug in die kerk in begin dans. Hulle het die kis op en af geswaai, terwyl die lyk daarbinne teen die mure gestamp het. Gou het die mense in die banke nadergedrom om ook met die kis te dans. Die kus was naderhand bo die hande van die groep soos ’n rockstar in ’n stage-dive.
Petrus het vir Adatjie opgetel om en bo die kis gesit. Sy het gelyktydig gelag en gehuil, en dit het eintlik net oorgekom asof sy nies. Die mense het die kis met die meisie bo-op uitgedans tot waar die son buite met groot verwelkoming op hulle gevlek het.
Brood is gebreek, en wyn is oor die kis gegooi.


Tuesday, September 13, 2011

Op ’n goeie dag soos vandag

Klein Basjantjie staan by die mengbak voor die venster en maak asof hy besig is om te dans soos sy sussie in die kombuis instap. Hy het ’n baard op sy gesig geteken met kryte, en ’n veer vesgemaak aan sy kop.
 « Wat bak jy? » vra sy.
« ’n Koei. »
Dan klim hy op die tafel met die meel in sy hande en laat dit oor haar sneeu. Sy tol twee keer in die rondte op die donker vloer en maak ’n geluid in haar eie Engeletaal, (’n tipe Engels, maar met baie meer ‘z’ geluide). Hul ma kom in die kombuis en soen die seun op die tafel soos hy die meelstof oor haar donker hare vryf. Die dogter klou aan haar ma se been an probeer haar eie wang ook beskikbaar maak vir een van hierdie verniet soene. Basjan se nuwe klein hondjie grom ook.
« Wat bak jy? » vra die ma vir die jong profeet op die tafel.
« ’n Koei! » sê die dogtertjie trots, voor die seun aan iets slims kan dink.

Buite staan die pa van hierdie groen en rooi huishouding en vang vis met sy bene in die water. Die dam sit stil en van vêr af kan die kinders deur die venster sien hoe sy skouers ruk van die lag: Hy luister na ’n draadloos wat op ʼn klip staan langs hom. Basjan hardloop uit met die pakkie meel om sy pa ook daarmee te seën. Hy hardloop so vinnig in die water in dat hy die draadloos omstamp. Die pa kyk nie om nie, dit is asof niks gebeur nie. Basjan wonder wat nou so snaaks kan wees, hy kry sy moed bymekaar en gooi die meel met al sy trots en krag oor sy pa.

Dan kyk die amateur visserman om. Die seun skrik en staan stil. Na ʼn paar oomblikke besluit hy om meel oor die pa se gesig ook te gooi net voor hy terug huis toe hardloop. Sy pa staan stil en kyk na sy vislyn. Sy skouers begin weer te ruk soos hy verder huil.




Sunday, July 10, 2011

True Romance en Hakkelgebede

Na genoeg roomys sit ek nou so ongemaklik op hierdie stoel soos ’n Helen Zille op die kop van ’n kameelperd. Dankie. Ek vergader my laaste bietjie drif en begin ’n bietjie skryf in die hoop dat ek die snotstreep wat ek oral los kan toesmeer met groot woorde wat almal sal laat dink dat ek moerse intelektueel is of iets.
Werk dit al? My 10 broers en susters (hulle raak net meer) kyk almal ’n fliek oor ’n klomp romantiese verliefdes ingekleur met net-net genoeg comic relief om my nierversaking te voorkom. Hoekom sit dit my so af?
My ouers vertel my hul romantiese ontmoetings verhaal soos wat meeste ouers vir hul kinders uit die bybel lees. Na genoeg van dit en genoeg boeke oor moerse blonde driepoot helde weet ek nie regtig meer hoe om Romance te benader nie.
Ek weet wel hoe dit lyk. Shock Horror Disbelief. Ja,  jy’t nie hierdie tipe walgike selfversekerde aanmerkings verwag nie. Maak jouself gereed, want ek gaan jou vertel hoe dit lyk.
Eerstens: Dit het ’n moerse groot pens. Meeste mense sou dink dit het ’n bruingebrande Latin-American six-pack wat vol olie gesmeer is. Dis nie Romanse nie, dis sosiale prestasie. Romanse is eerlik, en daarom druk hy sy maag uit.
Tweedens: Dis vol baklei en stry. Jy sou dink dat as die fliek eindig alles mooi gaan loop en die couple veraltyd diep in mekaar se oë gaan kyk vol bewondering, en later soos een mens gaan begin dink en hul Avo broodjies deel terwyl hulle hande vashou. Wat is dan die punt van twee mense in ’n verhouding? As ons moet streef daarna om soos een persoon te dink, te voel, te praat en te leef kan ons maar liewers alleen bly. Cut out the middle man. As jy en jou verliefde oor alles saamstem, lieg een van julle.
Derdens: Dis onseker. Daar is nie ’n sekerhied wat vir jou sê dat daar geen ander persoon op die aarde vir jou is nie. Dan sou dit nie braaf gewees het nie. Om te wag dat jy seker is voor jy jouself blootstel is banggatgeid. Banggatmense kry nie true romance nie, hulle kry middeljarige vakansies en gholf karretjies.
Vierdens: Dit maak jou nie altyd gelukkig nie. As jy altyd gelukkig is beteken dit dat jy opgegee het. Jy het besluit dat dit wat jy kry is dit wat jy verdien.
Miskien moet jy nou maar daai aap bel. Sê vir hom jy smaak hom en dat jy dink hy’s ’n poephol, maar jy sal nie met enige ander persoon wil wees onder die son nie.
Dis True Romance.

Sunday, May 1, 2011

True Romance en Broodgis op my voorkop

Hoekom broodbreek en broodbak ewe heilig is

Ek hang my nat trui op en probeer aan die kaggelvuurhitte se  warm boude vryf in ‘n poging om lewe terug in my bene te kry. Welkom terug Danie. Dankie.
My oë het maanstof geword na ‘n kwartaal van akademie. Sonder Valient Swart, sonder ware dronkenskap was ek in ballingskap onder die vet maag van die Stellenbosch Univeriteit.

Ek het te lanklaas geskryf.

My vingers bewe op die keyboard, liewe hel, kan iemand my hand kom vashou, want ek gaan soos seuntjie van twee voet met sy roomys op die sand begin huil en sommer my eie blerrie kasteel omskop.

Toe bak ons ‘n brood. Die Du Toit gesin in sy klein kombuis, almal skree, almal lag, iemand huil, iemand troos, iemand is op rolskaatse, iemand het ‘n koek in haar hare, iemand sit op die vloer in die hoek met haar hande oor haar ore en probeer ‘n bietjie van die geraas uithou. Een of ander Hollander met blink bles en ‘n swaar stem sing oor die platespeler terwyl die buurman sy vensters sluit en vir sy vrou sê dat hulle ‘n brief moet skryf. My pa gee ‘n groot oortuigende vloek van vreugde en ek wens die mense in Die Bybel het ook so gepraat. Ek wens jy kon hier wees.

Ek het in my jonger dae eenkeer by die Wimpy vir ‘n vriendin van my se ma gesê dat ‘n brood nie baie kompleks is nie. « Meel en water, dis al, Tannie » het ek vertel. As ek nou terug kyk, besef ek dat daardie resep jou nie verder as die Laaste Avondmaal sal bring nie (in daardie era was dit werklik al wat hulle in hul brood gebruik het). Nà die Kruisiging het ons broodgis en vergifnis gevind. Die vergifnis kon ons nog nie prakties toepas nie, maar die gis het ons wel in ons brood begin gebruik.

So, Meneer die mal ‘teoloog’, hoe bak ons hierdie ‘brood’ ?

Wel, as jy die wyn terug na water toe kan verander, is dit great. Normale water werk ook goed. Tweedens het jy meel nodig. As jy paar korrels kan verander in 12 mandjies vol van meel, bel my, want dan weet ek iets oor jou wat jou nogal sal verbaas. (082 497 3006)
Derdens het jy die gis nodig. Gaan koop dit. Laastens, ‘n bietjie sout.

In maklike stappe :

Gooi die  pakkie gis in die 500 ml water en laat dit vir 15 minute staan. Die water mag nie warmer as die tong van jou verliefde wees na ‘n bevredeguinde koppie tee nie. Gooi dan die knippie sout en die kilogram meel wat jy in ‘n aparte bak het. Moet nooit staal bakke gebruik nie. Meng die giswater met die meel en knie dit tot dit die tekstuur van ‘n binnebeen het. Laat dit dan staan vir nog so 15 minute. Sit dit dan in ‘n warm oond van 240 vir 25 minute.

Dan het jy ‘n brood wat so lekker ruik dat jy vir Lazerus ‘n tweede keer uit die graf sal kan trek. Mummies eet nie brood nie, so moenie te veel daaroor worrie nie.

Dis dit vir nou. Lees my vriend Albert se blog, ‘Marmite vir die Siel’ as jy iets donker en lekker op die brood wil smeer.

Thursday, February 3, 2011

'n Franse opstel, ja.

Goed, glo dit of nie, maar in ons eerste week hier op die land van Valient Swart en die Mystic Boer, moet ons al 'n franse opstel skryf. Ja, ek weet, jy's hier om iets in Afrikaans te lees. Gaan dan maar af tot by die volgende venster. Daar staan "super powers." Lees dit as jy nie frans praat nie. As jy wel die taal van die hoender praat, sal ek dit wardeer as jy my kan help met al die taalkundige probleme in my opstel. Dankie.                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                           
                                                                                      
Qui suis-je?
Premièrement, je pense que c’est une bonne idée pour poser la question: Qui êtes-vous?
Pourquoi? Dans la monde moderne nous avons beaucoup des personnalités, et c’est une meilleur initiative á  trouve les ressemblances.
Qui, nous avons beaucoup des ressemblances, moi et vous! Nous habitons dans l’Afrique de sud, et quelquefois nous avons un peu assez du crime. Quelque part  dans notre vie, nous trouvons un grand amour pour les gens d’Afrique, et ses langues. Nous mangeons ‘Pap en Wors’ et buvons Windhoek. Nous connaissons Koos Kombuis, et nous rêvons un maison sur une grande ferme verte.  
Mais qui suis-je, sans vous? Maintenant je suis très fatigue. Je suis un homme, et je suis morale. Quelquefois je suis un peu morbide, et j’aime l’hiver et la matinée. Pour moi, la vie n’est rien sans l’amour romantique. J’écoute Bob Dylan et Bruce Springsteen, et je pense Kurt Darren est le diable.  Je suis dévoué á ma musique et j’aime une fille. Elle est très belle mais je connais seulement son prénom.

Quoi?

Oui, son prénom, mais comme j’ai dis nous avons tout le monde a des ressemblances.
Bon, je pense que je dois écrire un passage sur moi.
Je suis 18 ans, et j’adore la littérature. Ma langue est l’Afrikaans, J’ai une petite sœur, elle s’appelle Bella, et elle a six ans. Aussi, j’ai deux frères : Moskou et Wadda. Je sais, pourquoi le nom normal pour moi, et les noms extravagants pour mes frères ? Demandez mon père.

Mon père, c’est une autre livre. J’ai le visage du mon père, les chevaux blondes, les yeux bleu, et un nez juif. En fait, je suis un peu juif (mais je pense mon père est un vrai hébreu). J’adore mon père, il est un monsieur formidable.
Ma mère est la meilleure femme sur la planète, et aussi une d’accord artiste. J’ai cru qu’elle est un ange quand j’étais jeun. Elle est un ange!   

Maintenant, j’ai 320 mots. Je suis désolé, mais je suis une rédaction avec trop de mots! Je crois que vous me connaissez. C’est moi, c’est vous, c’est toi, c’est mon père, ma mère, mes frères et toute la monde.

Chic.
                                                                                                 

Monday, January 3, 2011

Super Powers

Ek hoes, ek vloek, en ek bid terwyl een of ander somervrug se pit in my keel double-park. Ek probeer die panic-button met my neus druk en skree met  die elegantheid van ‘n vet kommunis op ‘n scooter.
Bless you.

Delilah sny Simson se hare, en nee, dis net 'n skildery.
 Dan dryf ek die demoon van ‘n pit uit my liggaam uit en staan weer regop, ek probeer so nonchalant as moontlik lyk, want daar is mense in die kamer. Stay cool, om hemelsnaam. Stay cool.
Elkeen wat asem haal het een of ander talent. Myne is nie om cool te wees nie. Ek sukkel buitendien om asem te haal. Een van my broers het die krag van ritme gekry. Die ander een het die oerbalans van die kosmos ontdek, so hy ry pretty goed op ‘n skateboard.
Maar daar is nog groter kragte wat in mense lê.
Die grootste krag is die krag van broosheid. Die teenoorgestelde van die mens wat defensief leef. Iemand wat hul hart nie beskerm nie, maar oor en oor uit lê vir mense om te kruisig. Hierdie krag het ek ongelukkig ook nie. Jy ook nie. En jy, wat toevalig ook lees, ook nie.

Maar ons kan daarna streef. Ons kan probeer om nie altyd Mighty Men te probeer wees nie. Ons hoef nie altyd sterk te wees nie. Ons hoef nie defensief te lewe nie.
Ja, as jy nie defensief lewe nie, is die kanse seker groot dat mense jou gaan gebruik, of oor jou sal loop. Jy sal dit in alle waarskynlikheid nie kan oorleef nie.
Dis egter die hele punt.
Sodra mense iets waarlik beeldskoon sien, kruisig hulle dit.
As jy hierdie snaakse plek oorleef, en nie op een of ander manier deur mense bedonner word nie, doen jy duidelik iets verkeerd.

So wees liewers broos, ou Simson, laat jou vrou maar jou hare sny.

Gaan nou uit, gaan maak vir jou ‘n kostuum waaroor jy ‘n rooi onderbroek kan dra, soos Superman. Maak dan ‘n groot hart op jou bors, en sommer ook een wat jy op jou mou kan dra. Dan pak jy die hele ding weg, want dit lyk stupid.

Danie