Klein Basjantjie staan by die mengbak voor die venster en maak asof hy besig is om te dans soos sy sussie in die kombuis instap. Hy het ’n baard op sy gesig geteken met kryte, en ’n veer vesgemaak aan sy kop.
« Wat bak jy? » vra sy.
« ’n Koei. »
Dan klim hy op die tafel met die meel in sy hande en laat dit oor haar sneeu. Sy tol twee keer in die rondte op die donker vloer en maak ’n geluid in haar eie Engeletaal, (’n tipe Engels, maar met baie meer ‘z’ geluide). Hul ma kom in die kombuis en soen die seun op die tafel soos hy die meelstof oor haar donker hare vryf. Die dogter klou aan haar ma se been an probeer haar eie wang ook beskikbaar maak vir een van hierdie verniet soene. Basjan se nuwe klein hondjie grom ook.
« Wat bak jy? » vra die ma vir die jong profeet op die tafel.
« ’n Koei! » sê die dogtertjie trots, voor die seun aan iets slims kan dink.
Buite staan die pa van hierdie groen en rooi huishouding en vang vis met sy bene in die water. Die dam sit stil en van vêr af kan die kinders deur die venster sien hoe sy skouers ruk van die lag: Hy luister na ’n draadloos wat op ʼn klip staan langs hom. Basjan hardloop uit met die pakkie meel om sy pa ook daarmee te seën. Hy hardloop so vinnig in die water in dat hy die draadloos omstamp. Die pa kyk nie om nie, dit is asof niks gebeur nie. Basjan wonder wat nou so snaaks kan wees, hy kry sy moed bymekaar en gooi die meel met al sy trots en krag oor sy pa.
Dan kyk die amateur visserman om. Die seun skrik en staan stil. Na ʼn paar oomblikke besluit hy om meel oor die pa se gesig ook te gooi net voor hy terug huis toe hardloop. Sy pa staan stil en kyk na sy vislyn. Sy skouers begin weer te ruk soos hy verder huil.
No comments:
Post a Comment