Thursday, November 4, 2010

Hoe om 'Cool' te sê

Die laat Basjan Blou het op sy sterfbed gelê en gewonder wat om vir sy kinders te sê. Sy oudste dogter het hom gevra of hy glo in die hemel. Na ‘n lang bedinkte stilte het Basjan besluit dat hy sy laaste woorde nie gaan mors op sy eie geloof nie. Hy’t met sy vinger ondeund gewys dat sy dogter haar oor moet nader bring. Hy’t gehyg en sy oё toe gemaak. Toe hy die vreemde musiek uit die hemel begin hoor, toe spreek hy sy laaste lewende woord met sloer: “Cool.”
Ons almal het nie die geleentheid om ons laaste woorde te bedink nie, maar ons almal kan die woord ‘cool’ gebruik in die lewe se Sondagmiddae. In Afrikaans het ons die reg om ons tale te meng, aangesien die oorsprong van Afrikaans net ‘n bymekaarkoms van verskillende tale is. Die woord ‘cool’ is een van daai diamante wat enige sin laat blink.
Wat doen jy as jou hond jou gunsteling kussing stukkend gekou het en ‘n prentjie van ‘n kaal kat daarop geteken het? Vloek jy? Ek sê vandag vir jou, nooit weer nie. Sê net: ‘Cool.’
Jou hond gaan soveel respek vir jou hê, dat hy homself buite gaan uitsluit.
Wat doen jy as ‘n dom, dronk, vet  skoorsoeker in sy  swart polo langs jou stop met al sy vriende, en vir jou sê hy gaan jou ‘klits’? Sê net ‘Cool.’ Hy gaan vir ‘n oomblik staan en wonder  wat jy bedoel, en hoekom daar so baie van sy eie drool op sy skoene is. Jy kan hierdie tyd gebruik om weg te hardloop. Sy primitiewe krenkbare kop sal bars, en hy kan aangaan met die treurspel van sy lewe.
Wat doen jy as die skoolhoof vir jou sê jy moet jouself in rat kry? Sê net ‘Cool.’ Hy gaan so skrik dat hy gaan begin wonder of hy nie miskien vergeet het om kouse aan te trek nie. Loop dan rustig weg op so cool as moontlike manier terwyl hy by homself dink: ‘Wow, maar daai dude is with it.’
Wat doen jy as iemand vir jou sê jy praat te min? Sê ‘Cool.’
Wat doen jy as iemand sê jy praat te veel? Sê ‘Cool.’  
Wat doen jy as iemand sê jou gulp is oop en jou asem stink? ‘Cool.’
Binnekort gaan jy nooit weer ‘n hele sin hoef  te sê nie. Almal gaan jou ken as daai awesome outlaw wat kry wat hy wil hê, sonder om daarvoor te vra. Jy gaan ruiterlik die monochrome paganiste oorwin. En as jy nie weet wat 'monochrome paganiste' is nie, 'Cool.'
So gaan jy ook ryk word, en nooit weer hoef te sress oor algemene dinge soos water en elektrisiteit nie.

Wen die debakel met die 'cool' offensief.
Danie

4 comments: